Die Ons Vader GebedVoorbeeld

The Lord's Prayer

DAG 8 VAN 8

Visie

“Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (Matteus 6:13b AFR53).

Alhoewel hierdie gedeelte nie in die vroeëre manuskripte van die Nuwe Testament voorkom nie, maar dit bykans altyd in die kerke opgesê word, het die meeste moderne Bybelvertalings dit tot 'n voetnota beperk. Persoonlik verkies ek om dit te behou. Een rede daarvoor is omdat Joodse gebede in Jesus se tyd op aarde, gewoonlik met een of ander seënbede afgesluit is en dit is moontlik waarom Christene iets soortgelyks doen. 'n Ander rede is dat die gebed met lofprysing begin en dit is gepas om die gebed op 'n soortgelyke wyse af te sluit. Laastens, indien hierdie gedeelte uitgelaat word, eindig die gebed met 'n verwysing na “die bose” wat 'n mens nogal ongemaklik kan laat voel. Ek dink dit is belangrik om onsself tydens gebed te herinner dat, soos ons in die Bybel se geskiedenis sien, die duiwel nie die laaste sê het nie.

Hierdie laaste gedeelte moedig ons aan om ons gebede vir voorsiening, vergifnis en beskerming opsy te skuif om sodoende die geheelbeeld te sien. Dit plaas ons bestaan in perspektief. Ek wil graag jou aandag op drie dinge vestig:

Die eerste is dat ons herinner word dat die koninkryk, die belangrikste prioriteit van ons lewens moet wees. Ons almal kom te staan voor keuses in die lewe ten opsigte van watter werk om te aanvaar en hoe om ons tyd of geld aan te wend. Hierdie keuses kan ons aandag aflei en kan maklik ons gedagtes oorheers. God sê hiermee dat ons moet opkyk van al die bekommernisse wat ons gedagtes oorheers — daardie belangrike voorlegging, die toestand van jou motor, jou kwynende bankbalans of die pyn in jou skouer — en God se koninkryk raaksien.

Die tweede is dat hierdie frase ons daaraan herinner dat die doel van ons lewens is om God se koninkryk te bou en aan Hom die eer te gee. Daar is 'n beroemde, bykans berugte, Eerste Wêreldoorlog-plakkaat waarop 'n klein dogtertjie op haar pa se skoot sit en hom vra: “Pappa, wat het JY in hierdie groot oorlog gedoen?” Die pa se ongemaklike uitdrukking sinspeel daarop dat die antwoord “baie min” was. Laat ons daardie vraag verskuif vanaf 'n oorlog in die verre verlede na ons huidige bestaan. Dit is 'n vraag wat in verskeie vorme by baie mense tydens aftrede spook of wanneer hulle die einde van hulle lewens nader. “Wat het ek gedoen met al die ure wat God my gegee het? Waaraan het ek my energie bestee? Wat het ek bereik wat ewigheidswaarde het?” Die werklikheid is dat die enigste doel van ons menslike bestaan wat ewigheidswaarde het, God se koninkryk is.

Die derde is om ons te herinner dat ons aan God se krag in ons lewens moet vashou. Die Ons Vader daag ons uit en stel vereistes aan ons lewens. Om te probeer om hierdie gebed in ons eie krag uit te leef, is 'n resep vir spanning, uitbranding en mislukking. Ons enigste hoop is om die krag van die Heilige Gees toe te laat om ons te help.

Laastens wil ek 'n opmerking maak oor daardie klein woordjie Amen. Om Amen te sê is om jouself te verbind tot dit wat jy gebid het. In der waarheid beteken dit “laat dit gebeur”. Dit is soos om 'n brief met jou handtekening af te sluit, om jou hand instemmend te lig vir een of ander mosie of selfs om die “stuur”-knoppie van 'n e-pos te druk. Ons vra vir God oor alles wat ons gebid het: "laat dit gebeur". 

Mag jy werklik in staat wees om met selfvertroue aan die einde van hierdie gebed te sê: Amen

Mag God jou gebede verhoor!


Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

The Lord's Prayer

Sluit aan by J.John vir hierdie 8-dae leesplan wat handel oor die Ons Vader, daardie wonderlik diepgaande en nuttige onderrig, waarmee Jesus ons geleer het hoe ons moet bid.

More

Baie dankie aan J JOHN wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek: https://canonjjohn.com