Die Ons Vader GebedVoorbeeld
Vergifnis
"'en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe" (Matteus 6:12 AFR53).
Kom ons begin by die begin: skulde verwys hier na sonde en skuldenaars verwys na diegene wat ons te na gekom het. Omdat ons egter op 'n daaglikse basis gewoond is aan die konkrete idee van wins en verlies, help die idee van skuld om hierdie gedeelte te begryp. Sonde is skuld.
Ons moenie die volgende drie dinge uit die oog verloor nie:
Eerstens is die Bybel baie duidelik daaroor dat ons almal volkome vergewe móét word. Sommige mense gaan baie ligtelik om met die idee van sonde, asof dit 'n onbenullige saak is, soos 'n bietjie stof op 'n jas wat maklik afgeborsel kan word. Die Bybelse beskrywing van ons sonde is ongelukkig wyer, dieper en meer alomvattend.
- Sonde strek wyer as wat ons dink. Ons is geneig om sonde te beperk tot dinge wat opspraakwekkend is en die hoofopskrifte haal, soos hebsug, grootskaalse korrupsie, owerspel en moord. Ons is ook geneig om ernstige sondes net te sien as dié waaraan ons nie skuldig is nie. Die Bybel se definisie van sonde is baie meer verreikend en die subtiele en private sonde wat selde die kollig haal, word ook ingesluit: afguns, verraad, oneer, huigelary, verwaandheid, lafhartigheid, ens. Trouens, Jesus vestig ons aandag daarop dat sonde nie net in dade bestaan nie, maar alreeds in ons denke.
- Eweneens gaan sonde dieper as wat ons dink. Dit is 'n diepgaande, ingewortelde infeksie wat sy weg gevind het na elke aspek van ons menswees: liggaam, denke, gees. Selfs nog meer kommerwekkend, is die feit dat sonde nie net iets is wat tussen twee persone plaasvind nie, maar ook tussen ons en God.
- Sonde is ook baie meer alomvattend as wat ons bereid is om te erken. Niemand word daarvan vrygestel nie. Dit is iets waarvan die Bybel nie net vir ons vertel nie, maar dit word deur Jesus uitgewys. In die evangelies word sy lewe vir ons uitgebeeld as 'n maatstaf van volmaaktheid waaraan niemand van ons kan voldoen nie.
Tweedens is daar die moontlikheid van vergifnis. Een van die wreedste dinge wat enige godsdiens of geloof kan doen, is om mense aan sonde skuldig te bevind sonder om vergifnis te verkondig. Dit is gelykstaande daaraan dat 'n dokter jou meedeel dat jy 'n ernstige siekte het sonder om tegelykertyd 'n behandeling voor te stel. Die vreugde van Christenskap wentel om 'n God van vergifnis; deur Hom kan ons skuld vergewe word. Die Ou Testamentiese stelsel het berus op die idee van diere-offers wat die gelowiges se sondes weggeneem het. Die Nuwe Testament verduidelik die diepgaande werklikheid dat daardie offers na die uiteindelike, volkome offer van Jesus aan die kruis, heen gewys het. Ons skulde kan net betaal word as ons toelaat dat God dit vir ons betaal. Ons sonde kan uitgewis word; in Christus kan ons van ons sonde verlos word.
Derdens, terwyl hierdie gratis vergifnis die beste nuus is, kom dit met 'n verpligting. Diegene wat vergifnis ontvang het, moet ander ook vergewe. Dit is 'n logiese gewaarwording — indien die medisyne van vergifnis aan ons geskenk is om ons van ons sondes te genees, kan ons dit nie weerhou van hulle wat teen ons gesondig het nie. Hierdie beginsel word dikwels misverstaan sodat sommige mense aanneem dat God se vergifnis daarvan afhanklik is dat ons ander mense eers moet vergewe. Die werklikheid is dat God eerste en vrylik vergewe, met die veronderstelling dat, as ons vergifnis ontvang het, ons natuurlike reaksie moet wees om vergifnis outomaties na andere te laat vloei. Vergewe en vergifnis is onlosmaaklik aan mekaar verbind. Volhard!
Ek is onder geen wanindruk dat vergifnis so maklik is nie. Dit is maklik om oor verraad of onvriendelike optrede te sê: "Dit is vergewe". In werklikheid is daar sommige wonde wat so diep is dat dit tyd en die hulp van die Heilige Gees verg om te genees.
Ons moet ook altyd onthou, alhoewel ons deur die kruis vergifnis ontvang het, ons ons gereeld na God moet wend om vergewe te word. Ons nuwe verhouding met God as ons volmaakte ouer, vereis dat ons openlik teenoor Hom is oor dit wat ons verkeerd doen. Sonde wat nie bely en vergewe is nie, vorm 'n skeiding tussen ons en God en beskadig ons verhouding. Net soos ons moet vra vir ons daaglikse brood, moet ons ook vra vir daaglikse vergifnis.
Aangaande hierdie leesplan
Sluit aan by J.John vir hierdie 8-dae leesplan wat handel oor die Ons Vader, daardie wonderlik diepgaande en nuttige onderrig, waarmee Jesus ons geleer het hoe ons moet bid.
More