Die Ons Vader GebedVoorbeeld
Voorsiening
"Gee ons vandag ons daaglikse brood" (Matteus 6:11).
Enersyds is daar op hierdie stadium 'n verskuiwing in die Ons Vader. Ons verskuif vanaf 'n "opwaartse fokus" na 'n meer "binne- en uitwaartse fokus", dus na onsself en diegene om ons. Hierdie verskuiwing van ons fokus weerspieël beide die tien gebooie en Jesus se samevatting van die wet: Om God lief te hê en om ons naaste lief te hê (Matteus 22:36-40). Andersyds is dit tog dwaas om te dink dat ons hier verskuif vanaf die geestelike na die praktiese. Die feit bly staan dat God betrokke is in elke aspek van ons lewens.
Ons moet die betekenis van hierdie vers noukeurig oordink. Daar was nog altyd aangeneem dat "brood" in hierdie vers verwys het na al ons lewensbehoeftes. Dit sluit fisieke behoeftes in: nie slegs kos nie, maar ook water, beskutting, klere, gesondheid, finansies, ens. Tog is dit selfs nog meer: dit kan sielkundige behoeftes soos gemoedsrus, hoop en moed, asook geestelike behoeftes soos genade, bewustheid van God en geloof insluit. "Brood" is dus alles wat vir ons tot aansporing dien. Let daarop dat ons deur ons gebed vir daaglikse brood, ons afhanklikheid van God erken. Dit is veels te maklik vir ons om met verwaandheid voorraadopname te neem van alles wat ons is en wat ons besit en dan te spog oor "alles wat ek persoonlik bereik het". In Daniël 5 kondig die profeet 'n oordeel aan oor die bose koning Belsasar wat die volgende woorde insluit: "U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie" (Daniël 5:23). Netso het Paulus die hoogmoed in die gemeente van Korinte aangespreek: "Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?" (1 Korintiërs 4:7a).
Alhoewel daar in hierdie gedeelte ruimte is, is daar ook beperkings. Brood is die mees basiese voedsel en Jesus leer ons dat ons daarvoor moet bid, nie vir die luukshede nie, maar vir die noodsaaklikhede. Terwyl ons hierdie vers bid moet ons nooit vergeet dat daar so baie mense in hierdie wêreld is vir wie toegang tot die mees basiese noodsaaklikhede wel 'n luuksheid is nie. Deur hierdie vers van die Ons Vader te bid herinner ons onsself dat ons vir ons behoeftes bid, nie vir ons begeertes nie. Ons moet onthou wat ons alles ontvang het.
Die "Ons Vader" bevat geen oortollige woorde nie en die woord daagliks moet ons vir 'n oomblik laat stilstaan. Ons is geneig om God nie net vir dit wat ons nou nodig het, te vra nie, maar vir wat ons dink ons in die toekoms mag nodig hê. Om dit te doen, is een van vele maniere om die doel van hierdie gebed te ondermyn. God wil hê ons gebede moet op ons verhouding met Hom fokus en deur ons op 'n daaglikse basis na Hom te wend vir ons versoeke, help om daardie verhouding te bou. Om daagliks te bid vir ons behoeftes bou 'n verhouding van ewigheidswaarde.
Laastens wil ek iets beklemtoon wat deurlopend in die Ons Vader voorkom: daardie klein woordjie ons. Dit is baie belangrik. Dit is heeltemal te maklik om ons gebede net op onsself te fokus, maar dit is nie die fokus van die Nuwe Testament nie. Ons moet 'n keuse uitoefen om Jesus Christus te volg en om as individue deel te wees van God se mense; maar as Christene moet ons onsself altyd sien as deel van 'n gemeenskap. Wanneer ons bid moet ons altyd vir hulle bid wat aan ons verbonde is: ons eie families en ook ons geestelike familie. Dit is in der waarheid goed om ook te bid vir ons vriende, kollegas en ons naaste.
Ten laaste, wanneer God ons ons daaglikse "brood" gee — en gereeld veel meer as net dit — laat ons dankbaar wees.
Aangaande hierdie leesplan
Sluit aan by J.John vir hierdie 8-dae leesplan wat handel oor die Ons Vader, daardie wonderlik diepgaande en nuttige onderrig, waarmee Jesus ons geleer het hoe ons moet bid.
More