Die Ons Vader GebedVoorbeeld
Beskerming
"Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; maar bevry ons van die greep van die Bose" (Matteus 6:13 NLV).
Die Bybel gaan van die veronderstelling uit dat ons in 'n geveg met die Bose is en dat dit 'n oorlog is waarin ons ons nie net teen een of ander teoretiese beginsel van boosheid verset nie, maar ook teen die Bose in 'n persoonlike hoedanigheid. Die begrip van 'n boosaardige, intelligente krag van die Bose wat in die hedendaagse samelewing aan die werk is, is iets wat baie min mense ernstig opneem, tensy hulle gelowiges is. In die lig van bewyse van die Bose se werk in die wêreld, vind ek dit nogal verbasend. Waarskynlik is daar verskeie redes waarom dit nie aanvaar word nie: die Bose word gereeld deur 'n spotprent voorgestel (dink aan die rooi strokiesprentkarakter wat die duiwel met 'n hooivurk voorstel) of misbruik met tragiese gevalle van duiwelbeswering wat verkeerd loop, of selfs daardie patetiese verklarings wat daarop aanspraak maak dat "die duiwel my dit laat doen het".
Kom ons begin sommer met daardie geheimsinnige frase die bose. Die Ons Vader in ouer Bybelweergawes het die begrip "verlos ons van die Bose" as een of ander abstrakte filosofiese toestand laat klink. Daar is egter algemene ooreenstemming dat dit waaroor Jesus hier praat, is verlossing van 'n bose wese. Hiermee is daar baie geskilpunte wat meer breedvoerig in my boek oor die Ons Vader bespreek word. Nietemin, dit blyk egter, om enigsins 'n beginselvaste "Bybelse Christen" te wees, moet ons in die teenwoordigheid van een of ander bose geestelike wese in die wêreld glo — hy is heeltemal ondergeskik aan God — maar is tog in staat om Hom teë te staan en is ook 'n kwaadwillige en kragtige teenstander van gelowiges. Om die waarheid te sê, die toestand van die wêreld het tot gevolg dat dit makliker is om te glo in die bestaan van 'n duiwel as om in 'n goeie God te glo.
Die Bose word hier genoem as 'n agent van versoeking. Ook dit moet met handskoene aangepak word. Een gevaar is dat ons ons soms verbeel dat God self die versoeking doen en dat ons vir God in die Ons Vader vra om 'n bietjie "skiet te gee". Die beste manier om moontlik na hierdie gedeelte te kyk is om 'n duidelike onderskeid te tref tussen beproewing en versoeking. Beproewing, fisiek of geestelik, is 'n goeie ding. Om 'n "toets" deur te kom, spoor ons aan en laat ons besef dat ons gegroei het. Alhoewel God 'n beproewing kan gebruik om ons te laat groei, kan die duiwel dit in 'n versoeking verdraai om ons te breek.
Dit mag dalk help om dit waaroor hierdie gedeelte praat, te sien as iets wat beide 'n versoeking en beproewing is. Uit God se oogpunt kry ons 'n toets of beproewing om die gehalte van ons geloof te demonstreer; as ons die toets slaag kan ons bemoedig word deur die teken van geestelike groei. As ons die bestaan van die duiwel erken, kan dieselfde beproewing ook vanuit 'n ander perspektief gesien word: as ons misluk het hy 'n hou teen ons Christelike geloof ingekry.
Wat bid ons dan hier? Heel eenvoudig bid ons, wanneer ons versoeking of beproewings moet trotseer, dat ons oorwin en nie misluk nie. Ons bid dat God ons sal help om die uitdagings van die bose te weerstaan en uit sy greep te bly. Laat ek drie voorstelle maak:
Eerstens moet ons erken dat daar elke dag, in elke opsig, beproewings en versoekings op ons pad kom. Ons moet voorbereid wees.
Tweedens kom ons nie weerloos voor die Bose te staan nie. God het die Heilige Gees aan sy kinders gegee om hulle te help. Dit is geweldig dwaas om een of ander ernstige versoeking te probeer hanteer sonder om jou toevlug te neem tot die Een wat God aan sy kinders as Hulp gegee het nie.
Derdens is dit 'n tipiese taktiek van die "Bose" om, wanneer ons misluk – en ons almal misluk die een of ander tyd – ons te probeer oortuig dat ons met hierdie mislukking finaal klaar is met God. In der waarheid, as ons werklik God se kinders is, is ons mislukkings geen rede vir Hom om ons te verwerp nie, al bedroef dit ons hemelse Vader. Wanneer ons misluk in ons pogings om beproewings te weerstaan, vernietig dit nie die wesenlike aard van ons verhouding met ons hemelse Vader nie – ons bly steeds sy kinders – maar dit rig wel skade aan die kwaliteit van ons verhouding.
Aangaande hierdie leesplan
Sluit aan by J.John vir hierdie 8-dae leesplan wat handel oor die Ons Vader, daardie wonderlik diepgaande en nuttige onderrig, waarmee Jesus ons geleer het hoe ons moet bid.
More