Die Ons Vader GebedVoorbeeld

The Lord's Prayer

DAG 3 VAN 8

Verheerliking

"Laat u Naam geheilig word" (Matteus 6:9c).

Die meeste sinsnedes van die Ons Vader is heeltemal voor die hand liggend, maar 'n frase wat nadenke vereis, is "Laat u Naam geheilig word". Die Boodskap vertaling lees: "Laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê" wat dit nogal duidelik maak. Dit kan ook help om te weet, wanneer daar in die Bybel na iemand se naam verwys word, alles wat hulle is en wat hulle verteenwoordig, ingesluit word. Ons is heeltemal in die kol wanneer ons die uitdrukking "iemand se naam deur die modder sleep" gebruik, of wanneer ons sê "Jou naam is goud werd."

Om "die Naam van God te heilig" beteken om God op so 'n wyse te loof en prys dat Hy en alles aangaande Hom, verheerlik word bo alles wat ons is. Dit beteken om onsself te herinner dat God bo alles verhef en verheerlik moet word. Die rede waarom ons dit moet doen, is omdat daar 'n soort "geestelike swaartekrag" in die wêreld is wat geneig is om alles, ook God, af te trek of te verlaag. Hierdie verlaging van God kan op enige vlak voorkom. Iemand kan byvoorbeeld daarop aanspraak maak dat God aangeval word as hulle kritiek kry wanneer hulle "die werk van God" doen. Ek veronderstel dat op dieselfde wyse wat die meeste van ons sal weier om met opset oor 'n landsvlag te loop, moet ons versigtig wees om enigiets te sê of te doen wat die Naam van God mag beswadder of besoedel. Daar is al baie skade aangerig aan Christenskap deur die vernedering van die Naam van God wanneer mense sy Naam aan twyfelagtige ondernemings koppel. 

Dit is belangrik om te onthou dat die Ons Vader met die fokus op die Here sélf begin. In die tien gebooie sien ons dat die eerste vier gebooie oor ons verhouding met God gaan en die oorblywende ses oor ons verhouding met mense. Die Ons Vader het 'n soortgelyke patroon en dit is nog 'n aanmaning dat ware gebed op God gefokus moet wees en nie op onsself nie. 

Daar is verskeie redes waarom dit 'n wonderlike manier is om gebed te begin deur God met ons lofprysing en eer te verheerlik:

  • Om God te prys herinner ons aan die werklikheid van die heelal. Ons word deur allerlei outoriteite en individue omring wat daarop aanspraak maak dat hulle die meesters is van alles wat 'n invloed op ons lewens het. Ons lofprysing aan God herinner ons, voor watter uitdagings ons ook al daagliks te staan kom, God alleen volkome in beheer is.
  • Om God te prys herinner ons wie Hy is en, gevolglik, wie ons is. Selfs al kan ons vir God deur Christus as ons volmaakte ouer ken, kan ons nie met God in gebed tree asof ons sy gelyke is nie. Deur God te prys, verheerlik ons Hom en kan ons met nederigheid in die regte gesindheid voor Hom verskyn.
  • Om God te prys gee ons die regte fokus. Om ons hemelse Vader aan die begin van ons gebed te prys, rig ons gebedfokus op God. Dit is soos om 'n kaart met 'n kompas in lyn met ware noord te bring. Ons eie persoonlikhede en bekommernisse is só kragtig dat dit baie maklik is om onsself die fokuspunt van ons gebede te maak en sodoende dit wat ons sê só verwronge te maak dat dit meer na 'n inkopielys begin klink. Indien ons nie ons gebede in lofprysing geanker hou nie, is daar altyd die gevaar dat ons God kan sien as iemand wat net in ons eie behoeftes moet voorsien. Ons skep 'n afgod wat vir ons 'n bonatuurlike dokter, hemelse bank of "inkopiesentrum van bo" is; 'n Individu wie se doel slegs is om ons siektes te genees, ons rykdom te vermeerder en in al ons begeertes te voorsien. 
  • Verheerliking herinner ons wie God is. Baie Christene verwaarloos ongelukkig die Ou Testament en dit is juis in daardie bladsye van die Ou Testament wat die grondslag lê vir die Nuwe Testamentiese idees van wie God werklik is. Die Ou Testament skets God as ons Herder, Koning, Regter, Verlosser, die Heilige Een, ensovoorts. Verheerliking wat in die Bybel geanker is, gee ons 'n ryker en dieper idee van wie God is.
  • Verheerliking verhef God. Daar is 'n wyse Sondagskool gesegde wat sê: "klein God, groot probleme; groot God, klein probleme". Verheerliking verhef God!
Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

The Lord's Prayer

Sluit aan by J.John vir hierdie 8-dae leesplan wat handel oor die Ons Vader, daardie wonderlik diepgaande en nuttige onderrig, waarmee Jesus ons geleer het hoe ons moet bid.

More

Baie dankie aan J JOHN wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek: https://canonjjohn.com