Die Ons Vader GebedVoorbeeld

The Lord's Prayer

DAG 4 VAN 8

Vooruitsig

"Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel" (Matteus 6:10).

Daar is twee groot lewensvrae. Die eerste is persoonlik: Waarom is ek hier? Die tweede is wêreldwyd: Waarheen is die wêreld op pad? Hierdie vrae handel oor "Wat is die sin van die lewe?" en is baie belangrik. Verskeie mense het al hartseer en teësinnig tot die veronderstelling gekom dat daar geen sin in die lewe of die heelal is nie. Om te glo dat daar geen sin in ons bestaan is nie, is geweldig hartseer. Dit is 'n opvatting wat enige aansporing of vasbeslotenheid ondermyn. Om dan die mees aangename tydverdryf te vind, is die beste wat jy kan doen. 

Hierdie vers van die Ons Vader smoor die hele idee van betekenisloosheid in die kiem en vervang dit met 'n doel vir ons en ook vir die wêreld. Jesus verwys hier na die koninkryk en dit is belangrik om kennis te neem dat die koninkryk van God en die koninkryk van die hemel dieselfde is. Baie mense wat die Bybel lees word hierdeur verwar aangesien daar redelik min verwysings na die koninkryk in die Ou Testament voorkom. Ook ná die evangelies van Matteus, Markus en Lukas kom daar nie veel verwysings na die koninkryk voor nie. Alhoewel die Ou Testament selde na die koninkryk verwys, word daar dikwels oor die Koning gepraat. In die Ou Testament is God die Koning van die ganse skepping en die mensdom se probleem is dat ons dit verontagsaam en rebelleer teen die Koning en sy koninkryk. 

Die Nuwe Testament sluit hierby aan en vereenvoudig die begrip dat almal nou deur die koms van Jesus toegang tot die koninkryk het. Die koninkryk is enige plek – en enige lewe – wat onder die outoriteit van Jesus is; dit is elke plek waar God se heerskappy in die lewens van mans en vroue aanvaar word. Om in die koninkryk te wees, is om iemand of iewers te wees waar God se heerskappy aanvaar word en waar sy wil geskied. Tans gebeur dit slegs in die hemel, maar ons word verseker dat die mensdom se rebellie teen God eendag beëindig sal word en God se heerskappy deur die hele skepping gehoorsaam sal word.

Die begrip van die koninkryk is baie belangrik aangesien ons as menslike wesens onder die indruk verkeer dat ons in een of ander neutrale geestelike omgewing bestaan waarin ons onafhanklik is. Die Bybel stel dit egter duidelik dat daar geen neutraliteit is nie; hierdie wêreld is 'n slagveld waar die bose magte en die bose (later meer oor hom) gesag uitoefen, of daarop aanspraak maak om oor alles gesag uit te oefen. Wanneer iemand hulle geloof in Jesus plaas en 'n Christen word, is daar verskeie dinge wat plaasvind; een buitengewone belangrike ding is dat daar 'n verskuiwing plaasvind van hulle getrouheid aan die wêreld na die heerlikheid van God se koninkryk. 

Hierdie vers is dan 'n gebed van oorwinning oor die bose en dat die wêreld eendag — moontlik gouer as wat ons dink — op 'n plek sal wees waar alles wat gebeur net goed, reg en vreugdevol sal wees — en volgens die wil van God. Die huidige botsende teenstrydigheid van die wêreldse lawaai sal plek maak vir die volmaakte harmonie van die hemel. 

Alhoewel ons altyd die langtermyn toekoms van ons heelal in gedagte moet hou en moet hunker na daardie heuglike dag wanneer alles vir ewig goed sal wees, moet ons intussen nog daagliks lewe. Om hierdie vers van die Ons Vader te bid, beteken dat ons persoonlik keuses moet maak en besluite moet neem wat die Koning en sy koninkryk ondersteun. Ons kan vír iets bid of téén iets. Ons moet dus vir dinge bid wat kan help om die waardes van die koninkryk toe te pas, byvoorbeeld deur dade van vriendelikheid en barmhartigheid; en dat ons woorde van waarheid en genade sal getuig. Ons kan ook teen dinge bid wat nie in ooreenstemming met God se koninkryk is nie, soos: afguns, haat, wellus ensovoorts. Ons moet natuurlik ook konsekwent wees. Ons kan nie vir ons kollegas bid om die waardes van die koninkryk uit te leef as ons dit nie in ons eie lewens uitleef nie.

Om hierdie vers van die Ons Vader betekenisvol te bid, is om na te dink oor alles van ons lewens en in ons wêreld en om daaroor te sê: "Vader neem beheer: laat hierdie wêreld meer soos die hemel raak en ons lewens meer hemels!"

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

The Lord's Prayer

Sluit aan by J.John vir hierdie 8-dae leesplan wat handel oor die Ons Vader, daardie wonderlik diepgaande en nuttige onderrig, waarmee Jesus ons geleer het hoe ons moet bid.

More

Baie dankie aan J JOHN wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek: https://canonjjohn.com