Die Ons Vader GebedVoorbeeld

The Lord's Prayer

DAG 2 VAN 8

Voorreg

“Ons Vader wat in die hemel is ... " (Matteus 6:9b).

Die geheim van baie dinge — moontlik alles — in die lewe, is balans; om 'n gesonde verhouding tussen twee of meer dinge te behou. 'n Goeie vervaardiger sal byvoorbeeld 'n produk wil skep wat 'n kombinasie van die regte prys en die regte kwaliteit is; 'n wyse ouer sal 'n balans tussen liefde en dissipline wil behou, ensovoorts. Die "Ons Vader" doen dit kort en kragtig met die pragtige woorde: “Ons Vader wat in die hemel is".

Eerstens word ons hiermee herinner dat God Vader is. Hier moet ek onmiddellik noem dat, indien jy, soos soveel ander mense vandag, so 'n negatiewe ervaring van 'n vader het dat die blote noem van die woord jou bloeddruk opjaag, jy 'n bietjie hieraan sal moet werk. Jy sal jouself gereeld en ferm moet herinner dat God die ideale vader is wat jy nooit geken het nie. Jy kan selfs aan Hom dink in die sin van 'n "volmaakte ouer"; iemand wat liefdevol en besorg daaroor is dat jy sal ontwikkel in die mens wat jy veronderstel is om te wees. Probleme met die woord vader moet nie die bonatuurlike waarheid ondermyn dat God 'n liefdevolle vader is nie. Ons kan ontslae raak van enige idees van God as 'n koue, berekende, hemelse superrekenaar, of enige gedagtes aan Hom as die Hoof Uitvoerende Beampte van die heelal verwerp. Jesus sê dat gebed 'n gesinsverband met God kan en moet insluit. Hierin is 'n dieper betekenis opgesluit: om daardie kosbare verhouding met God te hê, moet ons in Jesus glo en daardeur sy broers en susters word. Hierin is 'n eenvoudige waarheid vervat: om jou vertroue in Christus te plaas, beteken om in God se gesin aangeneem te word en om dus 'n verhouding met God as sy seun of dogter te hê. Ons word sodoende by 'n nuwe stel verhoudings "ingeskakel" in die hemel sowel as op aarde saam met ander gelowiges.

Hierdie wonderlike waarheid word gebalanseer deur ons te herinner dat God in die hemel is. Hy is almagtig, heilig en ver bo ons begrip en verstand. Hy verstaan alles, weet alles, het alles geskep en onderhou alles. Ons het dit nodig. Dit is so maklik om 'n afgewaterde, sakpas-God in ons eie verbeelding te skep, maar hierdie is 'n God wat in die hemel is: groter en meer indrukwekkend as enigiets wat ons onsself kan indink.

Dit is dan die perfekte balans: ons moet iets hê wat ons moontlik "liefdevolle ontsag" of "vreugdevolle toewyding" kan noem — jy kan dit noem wat jy wil — maar dit is 'n samevoeging van hierdie twee wonderlike waarhede. Dit is belangrik omdat baie gelowiges, moontlik almal van ons, 'n gebedslewe het wat gereeld 'n wanbalans word. Ons kan God se almag afwater en Hom as 'n gerieflike vriend behandel asof Hy glad nie omgee wat ons doen nie. Ons kan ook God se ouerlike liefde vir ons verwaarloos en Hom as 'n afgetrokke en onbetrokke heerser van die heelal beskou. Jesus leer ons hier dat ons 'n verstommende voorreg het: as ons ons geloof in Christus plaas, kan ons die God van die hemel in al sy krag en heerlikheid leer ken as 'n liefdevolle, besorgde, volmaakte ouer. Fantasties!

Wanneer ons dan hierdie gebed bid, laat ons 'n verposing neem by hierdie eerste woorde "Ons Vader wat in die hemel is" en laat ons gebalanseerd bly. 


Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

The Lord's Prayer

Sluit aan by J.John vir hierdie 8-dae leesplan wat handel oor die Ons Vader, daardie wonderlik diepgaande en nuttige onderrig, waarmee Jesus ons geleer het hoe ons moet bid.

More

Baie dankie aan J JOHN wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek: https://canonjjohn.com