Leef Jou Roeping Uit: Wat Op Aarde Doen Ek Hier?Voorbeeld
Ons Dien Omdat Ons Gered Is
Jy is gered om God te dien. Ons lees in die Bybel: "Hy het ons verlos en geroep met 'n heilige roeping – nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en genade" (2 Timoteus 1:9a AFR20).
God het jou verlos sodat jy sy "heilige roeping" kan uitvoer. Jy word nie deur jou diens gered nie, maar gered om te dien. In die koninkryk van God het jy 'n plek, 'n doel, 'n rol en funksie om te vervul. Dit gee groot betekenis en waarde aan jou lewe.
Jesus het met sy eie lewe vir jou verlossing betaal. Die Bybel herinner ons: "Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam" (1 Korintiërs 6:20 AFR20).
Ons dien God dus nie omdat ons skuldig voel, Hom vrees of selfs weens pligsbesef nie, maar as gevolg van ons vreugde en diepe dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het. Ons het ons lewens aan Hom te danke. Deur verlossing is ons verlede vergewe, betekenis is aan ons hede gegee en ons het 'n veilige toekoms. Op grond van hierdie verstommende voordele verklaar Paulus: "... gee dan julleself aan Hom as ’n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak" (Romeine 12:1 NLV).
Die apostel Johannes leer ons ook dat ons liefdevolle diens aan ander wys dat ons waarlik gered is. Hy sê: "Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief" (1 Johannes 3:14).
As jy geen liefde vir ander het nie, geen begeerte om ander te dien en jy slegs oor jou eie behoeftes besorg is, moet jy jouself afvra of Christus werklik in jou lewe is. 'n Verloste hart is een wat wil dien.
Luister na vandag se klankonderrig deur Pastoor Rick >>
Luister na gebed |
Aangaande hierdie leesplan
Sluit by Pastoor Rick se boodskapreeks aan oor God se roeping vir jou lewe terwyl jy leer hoe om onderskeid te tref tussen daardie roeping en om dit as 'n seën vir die kerk, ander mense en jou eie lewe aan te wend.
More