Leef Jou Roeping Uit: Wat Op Aarde Doen Ek Hier?Voorbeeld

Live Your Calling: What On Earth Am I Here For

DAG 19 VAN 23

God se Doel vir Jou is Karakter, Nie Gemak nie

Vele godsdienste en ook die New Age-filosofieë bevorder die ou leuen dat ons almal Goddelik is of gode kan word. Kom ek stel dit baie duidelik: Jy sal nooit God wees of selfs 'n god word nie.

Daardie hoogmoedige leuen is die oudste versoeking van die Satan. Hy het vir Adam en Eva belowe dat as hulle sy raad volg: "sal julle soos God wees" (Genesis 3:5).

Hierdie begeerte om 'n god te wees, duik elke keer op wanneer ons probeer om ons eie omstandighede, ons toekoms en die mense om ons te beheer. Ons sal egter as skepsels nooit die Skepper wees nie. God wil nie hê jy moet 'n god word nie; Hy wil hê jy moet Goddelik word deur sy waardes, ingesteldhede en karakter aan te neem. Dit is wat God wil hê: "Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig" (Efesiërs 4:22-24).

God se uiteindelike doel vir jou lewe op aarde is nie dié van gemak nie, maar van karakterontwikkeling. Sy wil is dat jy geestelik volwasse en soos Christus sal word. Om soos Christus te word, beteken nie jy verloor jou persoonlikheid of word 'n kloon sonder verstand nie.

God het jou as 'n unieke wese geskep, daarom wil Hy dit beslis nie vernietig nie. Om soos Christus te word, gaan daaroor om jou karakter te herskep, nie jou persoonlikheid nie.

Elke keer wanneer jy vergeet dat een van God se lewensdoelwitte vir jou is karaktervorming, sal jou omstandighede jou frustreer. Jy sal wonder: "Waarom gebeur dit met my? Waarom kry ek so swaar?" Een antwoord is natuurlik dat die lewe veronderstel is om moeilik te wees! Juis dit is wat ons die vermoë gee om te groei. Onthou, die aarde is nie die hemel nie.

Baie Christene interpreteer Jesus se belofte: "Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed" (Johannes 10:10) om perfekte gesondheid te geniet, 'n gemaklike leefstyl, voortdurende geluk, volle verwesenliking van jou drome en onmiddellike verligting van probleme deur geloof en gebed.

Kortweg, hulle verwag dat die Christelike lewe maklik moet wees. Hulle verwag dus hemel op aarde.

Met so 'n selfbehepte perspektief, hanteer ons God soos Alladin se genie wat uit sy lampie te voorskyn kom om ons te dien in ons selfsugtige gejaag na persoonlike vervulling. God is egter nie ons dienaar nie en indien jy in die strik trap deur te glo dat die lewe veronderstel is om maklik te wees, moet jy jou gereedmaak vir 'n groot ontnugtering, of jy sal in voortdurende ontkenning van die werklikheid lewe.

Jy moet altyd onthou dat die lewe nie om jou wentel nie! Jy bestaan ter wille van God se doelwitte, nie andersom nie. Waarom sou God vir ons hemel op aarde gee as Hy die ware Jakob vir jou in die ewigheid voorberei? God gee ons tyd op aarde om ons karakters vir die hemel te bou en te versterk.

Luister nou na vandag se klankonderrig deur Pastoor Rick >>

 

Luister na gebed
Dag 18Dag 20

Aangaande hierdie leesplan

Live Your Calling: What On Earth Am I Here For

Sluit by Pastoor Rick se boodskapreeks aan oor God se roeping vir jou lewe terwyl jy leer hoe om onderskeid te tref tussen daardie roeping en om dit as 'n seën vir die kerk, ander mense en jou eie lewe aan te wend.

More

Baie dankie aan "Rick Warren/Daily Hope" wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://pastorrick.com