40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 9 VAN 40

God is Teenwoordig

Weeklikse Oorsig

Ons wy hierdie week daaraan om ons toegeneentheid tot God na vore te bring deur ons denke te vernuwe. Jou denke is die deurgang na jou emosies. Dít wat jy dínk jou toegeneentheid waardig is, is dít wat jou denke uiteindelik sal ontvang. Dus, namate ons meer van God se oorweldigende goedheid begin verstaan, sal ons van nature ons harte vir Hom gee. Mag jy hierdie week geroer word deur die onvoorwaardelike liefde van jou hemelse Vader wanneer sy volmaakte karakter op groter, lewensveranderende maniere aan jou geopenbaar word. 

Skrifgedeelte: “Die Here jou God is in jou midde, 'n held wat verlos. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou stil met sy liefde. Hy sal oor jou juig met jubelkrete” Sefanja 3:17 (AFR20). 

Oordenking:

Daar is nie eintlik nog 'n vers in die Skrif wat die hart van God vir sy mense beter opsom as Sefanja 3:17 nie. Terwyl ons vandag deur hierdie vers gaan, bid ek dat jou lewe deur die werklikheid van God se nabyheid en die diepte van sy liefde vir jou verander sal word. Die Skrif sê:

"Die Here jou God is in jou midde, 'n held wat verlos. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou stil met sy liefde. Hy sal oor jou juig met jubelkrete" Sefanja 3:17 (AFR20). 

“God is in jou midde” — dink 'n oomblik na oor hierdie feit. God is nie ver weg nie; trouens, Hy is nou by jou. Indien jy 'n Christen is, woon sy Gees in jou en het gemeenskap met jou gees. Psalm 139:7 sê: “Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?” God se teenwoordigheid is nou by jou. Hy is in jou midde.

Hy is “... 'n held wat verlos.” As gelowige is jy nie uit jou eie gered nie, maar deur die nederige, liefdevolle offer van Jesus. Indien jy jou geloof in Christus bely het, behoort jy vir ewig aan Hom en niks kan jou redding van jou af wegneem nie. Wees vandag bly in Hom; die almagtige God het na jou toe gekom en nou hoef jy vir niks bang te wees nie. Verlossing is joune in Hom; jy is 'n kind van God.

“Hy verheug Hom met blydskap oor jou.” Om vol vreugde te wees oor jou, beteken om bly te wees oor wie jy is. Glo jy dat God vol vreugde is oor wie jy is? Die wêreld wil jou oortuig dat jy niks is om oor opgewonde te raak nie. Jou vyand herinner jou gedurig aan dit wat jy verkeerd doen en probeer jou oortuig dat jy nie geliefd is nie — dat jy waardeloos is. Die Bybel sê egter dat God vol vreugde oor jou is. God glo dat jy die dood van sy Seun werd is en dat daar niks is wat jy kan doen om Hom van gedagte te laat verander nie. Hy verheug Hom met blydskap oor jou.

“Hy maak jou stil met sy liefde.” Hoe gereeld laat jy toe dat God dit doen? Hoe gereeld ruim jy tyd in dat Hy jou lewe stilmaak met sy liefde? Dis sy belofte, maar net soos met enige geskenk, moet dit aanvaar word. Sy begeerte is om ‘n stille vrede in jou stresvolle en bekommerde wêreld te bring. God se vrede is te enige tyd beskikbaar vir jou wanneer jy jou hart oorgee en met sy teenwoordigheid gevul word. 

“Hy sal oor jou juig met jubelkrete.” Om oor jou te jubel beteken om verheug te voel of blydskap te toon as gevolg van 'n sukses. Weet jy dat God jou as suksesvol beskou? Die verhaal van die Skrif is dat God die mensdom vir sy doel geskape het om gemeenskap met hulle te hê. Hy het daardie volmaakte gemeenskap verloor toe die mens sonde bo Hom gekies het en sedertdien werk Hy daaraan om die verhouding te herstel. Met Jesus se dood is die vloek verbreek, ons sonde is betaal en ons kan nou in ‘n herstelde verhouding met God leef. God het nou waarna Hy al hierdie tyd verlang het — vir jou. Hy jubel oor jou omdat daar niks tussen Hom en jou staan nie. Vir God om net eenvoudig ‘n verhouding met jou te hê, maak jou alreeds ‘n sukses.

As 'n gelowige kan jy in die groot oorwinning leef wat God in jou behaal het. Jy ontmoet God van aangesig tot aangesig. God is vandag by jou teenwoordig en begeer om alles te doen wat Sefanja 3:17 belowe.  Laat God toe om al die beloftes in jou lewe te kom vervul terwyl jy die begeleide gebed ingaan. 

Begeleide Gebed:

1. Ontvang God se teenwoordigheid deur hierdie waarheid te bepeins: God is in jou midde. 

“Die Here jou God is in jou midde” Sefanja 3:17 (AFR20). 

“... Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” Eksodus 33:14. 

"Majesteit en luister straal van Hom uit, krag en vreugde vul die plek waar Hy is" 1 Kronieke 16:27. 

2. Ontvang die rustige hart wat sy liefde bring, terwyl jy die Skrif bepeins..

“Hy maak jou stil met sy liefde” Sefanja 3:17 (AFR20). 

“U, Here, is 'n barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou” Psalm 86:15. 

“Loof die God van die hemel! Aan sy liefde is daar geen einde nie” Psalm 136:26. 

3. Laat toe dat die Skrif dieper in jou hart insink. Jou Vader verheug Hom met blydskap oor jou. Hy juig oor jou met jubelkrete. In sy oë is jy 'n sukses. 

“Hy verheug Hom met blydskap oor jou” Sefanja 3:17(AFR20).

“Hy sal oor jou juig met jubelkrete” Sefanja 3:17 (AFR20).

“... wys my jou gesig, laat hoor my jou stem. Jou stem is strelend, jou gesig lieflik” Hooglied 2:14. 

Wanneer die sorge van die wêreld kom en die vrede van God se teenwoordigheid verdring, fokus op Hom en ontvang wat Hy alreeds aan jou beloof het. Dit sal jou help om ‘n vers soos Sefanja 3:17 te memoriseer sodat jy gedurig die beloftes van God kan beleef. Die beste geskenk wat jy jouself kan gee, is om die heeldag daaroor na te dink. Ruim tyd in om Sefanja 3:17 te memoriseer sodat dit meer as net woorde op papier kan wees en veranderende, hemelse vrede en vreugde kan voortbring.

Verdere Leeswerk: Memoriseer Sefanja 3:17

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/