40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld
Die Hart van God om te Vergewe
Weeklikse Oorsig:
Ons wy hierdie week daaraan om ons toegeneentheid tot God na vore te bring deur ons denke te vernuwe. Jou denke is die deurgang na jou emosies. Dít wat jy dínk jou toegeneentheid waardig is, is dít wat jou denke uiteindelik sal ontvang. Dus, namate ons meer van God se oorweldigende goedheid begin verstaan, sal ons van nature ons harte vir Hom gee. Mag jy hierdie week geroer word deur die onvoorwaardelike liefde van jou hemelse Vader wanneer sy volmaakte karakter op groter, lewensveranderende maniere aan jou geopenbaar word.
Skrifgedeelte: “Maar as ons ons sondes bely — Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” 1 Johannes 1:9.
Oordenking:
God haat sonde weens die vernietigende effek wat dit op ons en ander het. Hy haat dit egter nog meer dat iets tussen ons en Hom kom en moontlik ons verhouding met Hom bedreig. God het sy Seun gestuur om ons sondeskuld te betaal omdat Hy 'n verhouding met ons wou hê. Dit is ook as gevolg van sy voortgesette liefde vir ons dat Hy ons vergewe die oomblik wanneer ons ons sondes bely. Daar is nie 'n prys om te betaal nie. Ons hoef vir geen oomblik van sy volmaakte liefde geskei te wees nie. Jesus het die prys betaal vir elke sonde wat ek en jy ooit sal pleeg.
Dink vir 'n oomblik aan jou normale optrede nadat jy gesondig het. Deur watter proses gaan jy gewoonlik voordat jy voel dat jou posisie voor God weer herstel is? Hoe lank wag jy voordat jy berou toon? Hoeveel tyd laat jy gewoonlik verbygaan voordat jy voel dat jy weer jou hart vir God kan oopmaak en sy teenwoordigheid geniet? Dit is waar dat die gevolge van sonde nog kan vertoef, selfs nadat ons om vergifnis gevra het, maar 'n hindernis in ons verhouding met God behoort nie een van daardie gevolge te wees nie. Jesus het die hoogste prys betaal — sy eie lewe — sodat niks ooit weer tussen ons en God kan staan nie. Die Bybel sê in Romeine 8:33-39:
"Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? … Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here."
Die diepte van God se onvoorwaardelike liefde vir jou dring Hom daartoe om jou te vergewe. Psalm 103:12 sê: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” Nadat jy jou sonde aan Hom bely het, verkies Hy om dit nie langer te onthou nie. As jy aan 'n oortreding herinner word, is dit nie die Gees se stem wat jy hoor nie. Jy het 'n vyand wat heeltyd daarop uit is om hindernisse tussen jou en God op te rig. Hy weet dat hy jou nie meer uit die hemel kan hou nie, dus probeer hy onophoudelik om jou verhouding met God hier op aarde te vernietig. Die oomblik wanneer jy jou sonde aan God bely, is daar niks meer wat tussen julle staan nie. Moenie toelaat dat enigiets jou verhouding met jou hemelse Vader in die wiele ry nie. Herinner jouself aan die waarheid wat God van jou sonde sê. God se hart smag om jou nou en vir ewig te vergewe. Sy hart wil jou in 'n volmaakte verhouding met Hom inlei — elke dag, heeldag. Antwoord vandag "ja" op God se leiding en bevry jouself van die veroordeling van ou sondes waarvan Hy alreeds vergeet het.
Begeleide Gebed:
1. Laat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, nou jou kamer vul.
“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” Filippense 4:6-7.
2. Vra nou vir God om enige sonde in jou lewe uit te wys en bestee tyd om dit te bely. Onthou altyd dat God se hart nie wil veroordeel nie, maar genees. Skryf jou belydenis neer as dit jou sal help om te fokus of dit te onthou.
“Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen die hemel en die aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is” Psalm 103:10-14.
3. Ontvang sy vergifnis vir jou sonde. Om vergifnis te ontvang, is 'n vreeslike belangrike deel van belydenis. Besluit om jouself nie langer te straf nie. Kies om nie jou hart voor God in skaamte te versluier nie. Bring jou hart in voeling met die waarheid dat Hy kies om nie jou sondes te onthou, nadat jy dit bely het nie.
“Maar as ons ons sondes bely — Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alles ongeregtigheid” 1 Johannes 1:9.
Om voor God herstel te word, hang so dikwels af van ons eie keuses. Gaan jy kies om jouself te veroordeel? Gaan jy kies om na die stem van jou vyand te luister wat jou aan vorige oortredings herinner? Of gaan jy kies om vir God op sy woord te neem en volkome herstel voor die Vader te ontvang? Die keuse wat jy maak, gaan 'n betekenisvolle impak op jou lewensgehalte hê. Jy is geskep om 'n onbelemmerde verhouding met God te hê. Enigiets wat tussen jou en Hom staan, moet so gou as moontlik verwyder word. Aanvaar vandag sy vergifnis. Wanneer jy ook al aan sonde uit jou verlede herinner word, bring jou hart weer in pas met die Woord van God deur jou denke te vernuwe. Leef vandag nog in 'n herstelde verhouding met jou Vader.
Verdere Leeswerk: Romeine 8
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More