40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld
Om God se Stem te Hoor
Weeklikse Oorsig:
Ek en jy het ‘n waardevolle geskenk ontvang — kommunikasie met God. Verlede week het ons geleer wat die proses behels om ons harte se grond sag en ontvanklik vir God te maak. Hierdie week leer ons oor verskillende maniere om sy Woord as saad te ontvang. Mag jou gemeenskap met God floreer namate jy gereeld met jou liefdevolle en teenwoordige hemelse Vader in gesprek bly.
Skrifgedeelte: "Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig" Johannes 16:13.
Oordenking:
God hunker daarna om direk met jou te praat. As ‘n goeie Vader begeer Hy om gedurig in gesprek met jou te wees. Sy begeerte na kommunikasie was so groot dat Hy vir jou die gawe van die Heilige Gees gegee het. Jy het nou deur die Gees toegang tot God se hart. Dit is moontlik om sy wil te ken, sy stem te hoor en binne die wete van sy liefde te leef.
Johannes 16:13 dui aan dat “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig." As jy ‘n Christen is, het jy die “Gees van die waarheid” ontvang. Hy woon in jou. Hy begeer om jou te vertel hoe God oor jou voel. Hy begeer om jou na die Vader se volmaakte, hoopvolle en voorspoedige planne te lei (Jeremia 29:11). Sy stem is volmaak, liefdevol en altyd betroubaar. Hy sal jou nooit in ‘n rigting lei wat nie tot jou beswil is nie. Sy woorde sal nooit haatdraend of veroordelend wees nie. Volgens die belofte in Johannes 16:13 sal Hy net aan jou bekend maak wat Hy van die Vader hoor.
Neem ‘n oomblik om die waarheid dat God opregte en lewensveranderende gesprekke met jou begeer, in jou hart te laat insink. Dink daaroor wat dit vir jou lewe beteken om met God te kommunikeer. Jou Skepper hunker daarna om jou in jou besluite, verhoudings, werk, finansies en identiteit te ondersteun. God wil persoonlik met jou oor jou lewe praat — sodat Hy en jy mekaar volkome kan ken.
Soos enige goeie ouer daarvan hou om met hulle kinders te praat, net so hou jou hemelse Vader daarvan om met jou, sy kind, te praat. Dit help om te weet dat God se gesprek met jou min te make het met jou vermoë om God se stem te hoor en veel meer met sy begeerte dat jy Hom beter moet leer ken. God se stem in jou lewe is net nog een van die uitvloeisels van sy genade; God se onverdiende guns wat Hy skenk aan hulle wat glo. Soos in enige ander gesprek, sal jy Hom net hoor as jy luister. Verder, soos in enige ander goeie gesprek, hunker God daarna om ook van jou te hoor.
In Hebreërs 11:6 lees ons die volgende: “As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” Glo dat God daarna hunker om met jou te praat. Nader tot God met volle sekerheid dat Hy jou reeds baie lief het. Die Heilige Gees verlang na ‘n gespreksverhouding met jou. Laat toe dat God die gesprek tussen Hom en jou lei, vertrou die woord van God en sy karakter en luister na wat ook al Hy vandag vir jou sou wou sê.
Soos jy tot begeleide gebed toetree, neem tyd om jou hart rustig te maak en na die stem van die Gees te luister.
Begeleide Gebed:
1. Neem ‘n oomblik om jou gedagtes en gevoelens te kalmeer. Word bewus van God se teenwoordigheid en dink na oor die belangrike waarheid dat die Gees aan die woord is.
“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig” Johannes 16:13.
2. Luister nou na God. As jy oor enige omstandigheid, probleem of iets anders vrae vir Hom het, vra dit nou! God hunker daarna dat jy vir Hom moet vertel waarmee jy hulp nodig het. God lei weer eens die gesprek. Vertrou op Hom en sy tydsberekening. God begeer werklik om met jou te praat.
3. Skryf neer wat ook al God vir jou sê. Vind gemoedsrus daarin dat dit wat Hy sê, goed is.
Om met God te kommunikeer is soos om met 'n goeie vriend te kommunikeer. Ek besoek nie my vriende en vra hulle om vir my iets te sê om die opregtheid van hulle vriendskap te bewys nie. Ek beywer my liewer om hulle karakters te leer ken en dít gee dan aanleiding tot kommunikasie. Streef daarna om God so intiem as moontlik te leer ken. Glo dat Hy bestaan en dat Hy praat. Praat met Hom bloot omdat jy Hom wil leer ken. Rus dan in die vaste wete dat jy en jou liefdevolle hemelse Vader vir ewig in gesprek sal wees. Mag jou dag deur lewegewende kommunikasie met die Heilige Gees gekenmerk word.
Verdere Leeswerk: Psalm 27
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More