40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 16 VAN 40

God Praat deur sy Woord

Weeklikse Oorsig:

Ek en jy het ‘n waardevolle geskenk ontvang — kommunikasie met God. Verlede week het ons geleer wat die proses behels om ons harte se grond sag en ontvanklik vir God te maak. Hierdie week leer ons oor verskillende maniere om sy Woord as saad te ontvang. Mag jou gemeenskap met God floreer namate jy gereeld met jou liefdevolle en teenwoordige hemelse Vader in gesprek bly. 

Skrifgedeelte: "... dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom" Deuteronomium 8:3.

Oordenking:

In Deuteronomium 8:3 leer ons die volgende: "… dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom." Wanneer die woord van God in goeie grond geplant word, dra dit oorvloedige en lewegewende vrug (Matteus 13:20-22). Die Bybel is ‘n feesmaal wat die diepste binnekamers van ons harte kan versadig soos geen kos of enigiets te drinke óóit kan nie.

Wanneer jy jou Bybel oopmaak, ontsluit jy regtig God se woorde. Die Bybel is God se stem wat vir jou beskikbaar is in elke oomblik, situasie en verknorsing wat jou in die gesig staar. Besef dat God ‘n begeerte het om met jou te praat, want deur die Bybel is jy in besit van God se stem. God begeer om sy wil aan jou bekend te maak omdat jy sy Gees ontvang het om "… julle in die hele waarheid [te] lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig" Johannes 16:13.

Wanneer jy die Bybel lees met behulp van die Heilige Gees wat jou onderrig, is die Bybel nie langer maar net ‘n boek wat duisende jare gelede geskryf is nie, maar ‘n bron van lewegewende openbaring. Lees die Bybel biddend en gee aandag aan enige woorde, frases of idees wat jou opval. Laat toe dat God deur sy Gees die Bybel direk met jou lewe in verband bring. Terwyl jy lees, gee jouself oor aan die Woord van God deur dit voortdurend in jou hart te beaam. Kies om te doen wat die Woord sê sodat jy gelukkig kan wees in alles wat jy doen (Jakobus 1:22-25).

Die trefkrag van die Bybel is opgesluit in jou gewilligheid om gehoorsaam te wees. Daaglikse gehoorsaamheid maak die krag wat opgesluit is in die Bybel, sigbaar. Dus, wanneer jy die Woord van God vandag lees, vra die Gees om frases en idees vir jou uit te lig, gehoorsaam wat die Bybel sê en word ‘n doener van die Woord. God is gewillig om met jou te praat. Hy is gereed om die saad van sy Woord oral te saai waar dit verwelkom word. Maak jou hart ontvanklik vir die Woord van God, en laat dit toe om die vrug van blydskap, vrede en sinvolheid in jou lewe voort te bring.

Begeleide Gebed:

1. Vra vir die Gees wat jy vandag moet lees. Gee aandag aan enigiets wat jy lus voel om te lees of kies ‘n gedeelte uit Johannes 17 of Spreuke 3. Dink na oor enige frases, woorde of idees wat jou opgeval het. 

"…dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom" Deuteronomium 8:3.

2. Gehoorsaam die Woord van God. Aanvaar die Bybel as vertrekpunt vir al jou gedagtes, emosies en perspektiewe. Laat toe dat die Woord van God enige areas van jou lewe beïnvloed en verander wat nie in ooreenstemming daarmee is nie. 

3. Verbind jouself tot enige optrede wat die Woord van God vereis. Vra vir God wat Hy sou wou hê jy moet doen met dit wat Hy aan jou geopenbaar het. Kies om ‘n doener van die Woord te wees. 

"Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vrymaak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen" Jakobus 1:22-25.

As jy nog nie die gewoonte beoefen om daagliks Bybel te lees nie, soek na ‘n Bybelleesplan of ‘n boek wat die Bybel uiteensit wat jy getrou kan lees. Ons is gemaak om die lewegewende woorde in die Bybel as ‘n feesmaal te geniet. Die Woord van God kan nie oorvloedig vrug in jou lewe oplewer as jy dit nie opeet nie. Mag jou dag radikaal verander namate jy strewe om in getroue gehoorsaamheid volgens die Woord van God te lewe. 

Verdere Leeswerk: Spreuke 3

Dag 15Dag 17

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/