40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 15 VAN 40

God Praat

Weeklikse Oorsig:

Ek en jy het ‘n waardevolle geskenk ontvang — kommunikasie met God. Verlede week het ons geleer wat die proses behels om ons harte se grond sag en ontvanklik vir God te maak. Hierdie week leer ons oor verskillende maniere om sy Woord as saad te ontvang. Mag jou gemeenskap met God floreer namate jy gereeld met jou liefdevolle en teenwoordige hemelse Vader in gesprek bly. 

Skrifgedeelte: "Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie" Jeremia 33:3.

Oordenking:

Vir veels te lank in my lewe as Christen het ek geglo dat God nie juis daarvan hou om te praat nie. Weens my ervaring het ek dus gedink dat God net 'n paar keer in die geskiedenis gepraat het en slegs met mense soos Moses, Dawid of Paulus, maar nie met iemand soos ek nie. Toe praat God eendag met my. Ek het uit desperaatheid vir Hom 'n vraag gevra — en toe praat Hy. Die Skepper van die heelal het deur die mure van my wanopvattings gebreek en in so 'n duidelike stem met my hart gepraat dat ek dit nie kon misverstaan nie.

Nadat God so duidelik met my gepraat het, het ek begin om tyd af te staan om te luister. Deur vir God ruimte te skep om te praat, is my lewe deur die voortdurende, innerlike gesprekke met my hemelse Vader herskep. Jy sien, die Skrif maak dit duidelik dat God daarvan hou om met sy kinders te gesels. Johannes 8:47a (AFR53) sê: "Die wat uit God is, luister na die woorde van God." Jeremia 33:3 volg daarop: "Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie." Jesaja 55:3 (AFR53) sê ook: "Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe." Ons lees in Psalm 32:8: "Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou." Daar is 'n lang lys soortgelyke Skrifgedeeltes. In die een verhaal na die ander, hoor God se mense Hom en weet dus wat sy wil is. Die Bybel is duidelik daaroor dat God met ons as sy kinders op 'n manier praat wat ons kan verstaan. Hy doen dit op alle moontlike maniere. 

God gebruik allerhande kanale. God praat baie beslis met ons deur sy Woord. Die Bybel is een van die beste geskenke wat ons as Christene het — want dis werklik die Woord van God, want dis "lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart" Hebreërs 4:12. God praat ook direk met ons deur sy Heilige Gees. Johannes 16:13 sê: "Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig." Die Skrif openbaar ook hoe God deur sy skepping met ons praat: "Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem" Romeine 1:20 (NLV).

God hou daarvan om te praat. Hy is nie stil nie. Hy is nie afsydig nie. Dis sy begeerte dat jy met die kennis van sy liefde en volmaakte wil sal lewe. Die vraag is dus nie of God praat nie. Die vraag is eintlik of jy sal luister? Sal jy die keuse maak om jou aan Hom oor te gee — om te ontvang en gehoorsaam te wees aan wat Hy sê? Die eerste keer toe God reguit met my gepraat het, het Hy my gevra om iets geweldig moeilik te doen. Dit het glad geen sin gemaak nie, maar ek het geweet Hy het gepraat. In my oorgawe het ek sy opdrag gehoorsaam en sedertdien was my lewe nooit weer dieselfde gewees nie.

Luister vandag na God. Raak stil in jou siel en ontvang die gawe om met jou hemelse Vader te gesels. God het sy Gees in jou geplaas — nader aan jou as wat jy ooit sal begryp. Jy is met God verenig. Vra die Gees om vandag aan jou die woorde van God te openbaar. Vra God ook om jou bewus te maak van enige kanaal waardeur Hy verkies om met jou te praat. Luister dan met 'n gehoorsame, ontvanklike hart na al die wonderlike dinge wat Hy graag aan jou wil vertel.

Begeleide Gebed:

1. Ruim tyd in om in jou siel stil te raak. Bely enigiets wat jy dink jou verhouding met God kan hinder. Gee aan Hom enigiets wat jou denke belas. Ontvang sy vrede en wag geduldig vir Hom om te praat.

"Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe" Jesaja 55:3 (AFR53).

2. Luister. Vra die Gees hoe God oor jou voel. Vra na sy wil en leiding. Skenk aandag aan enige gedagtes, neigings of veranderinge in jou emosies as gevolg van die Heilige Gees. Laat God toe om op enige manier wat Hy verkies, met jou te praat. 

"Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie" Jeremia 33:3.

3. Dank God dan dat Hy gepraat het. Aanbid Hom omdat Hy nie afsydig is nie. Laat toe dat die waarheid van sy nabyheid jou perspektief en emosies vandag herskep.

Luister na God deur die loop van die dag. Bly deur die dag in 'n voortdurende gesprek met Hom. Oefen om in alle omstandighede na Hom te luister. Vra sy hulp en begrip in enigiets wat jou pla. Ons sal die res van die week oefen om na God te luister op die verskillende maniere hoe Hy verkies om met jou te praat. Mag hierdie week jou in 'n dieper en bevredigender verhouding met jou hemelse Vader lei terwyl jy voortdurend in gesprek met Hom bly.

Verdere Leeswerk: Johannes 8

Dag 14Dag 16

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/