40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 12 VAN 40

God Genees Harte

Weeklikse Oorsig:

Ons wy hierdie week daaraan om ons toegeneentheid tot God na vore te bring deur ons denke te vernuwe. Jou denke is die deurgang na jou emosies. Dít wat jy dínk jou toegeneentheid waardig is, is dít wat jou denke uiteindelik sal ontvang. Dus, namate ons meer van God se oorweldigende goedheid begin verstaan, sal ons van nature ons harte vir Hom gee. Mag jy hierdie week geroer word deur die onvoorwaardelike liefde van jou hemelse Vader wanneer sy volmaakte karakter op groter, lewensveranderende maniere aan jou geopenbaar word. 

Skrifgedeelte: “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde” Psalm 147:3. 

Oordenking:

Psalm 147 is een van my gunsteling Skrifgedeeltes. Dit is 'n psalm propvol van die wonderlike werke van God, verbeeldingryk en kragtig om ons liefde vir God na vore te bring. Ons leer daarin dat God “... besluit oor die getal van die sterre en elkeen 'n naam gee” (Psalm 147:4) en in Psalm 147:8-9 sien ons "Hy oordek die hemel met wolke, Hy voorsien reën vir die aarde en laat gras op die bergland uitspruit. Hy gee aan die diere hulle weiding en versorg die jong kraaie wat om kos skreeu.” 

Die vers wat ek vandag egter onder ons aandag wil bring, is vers 3: “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.” Jesus was 'n volmaakte voorbeeld van God se hartsbegeerte om presies dít te doen. Jesus het deurgaans tydens sy bediening mense liggaamlik, emosioneel en geestelik genees. Die Skrif gee aan ons begrip vir mense soos Maria Magdalena, wat van duiwelbesetenheid verlos is en 'n goeie vriendin van Jesus self geword het. Jesus het haar geestelik, emosioneel en liggaamlik genees deur haar van onderdrukking te verlos en haar vriend te wees. Dan is daar Paulus. Voordat Jesus hom verlos het, was hy Saulus — 'n man wat sy lewe daaraan gewy het om dieselfde Christendom te vervolg waarvoor hy later sy lewe sou opoffer in die uitbou daarvan. Hy was 'n gedrewe, suksesvolle en trotse man. Hy was 'n ywerige, toegewyde godsdienstige, maar 'n man ver van God se hart af. Nadat hy egter vir Jesus ontmoet en van sy vorige weë verlos is, kon hy met oortuiging in Filippense 3:8 sê: "... ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry.”

God het dieselfde hart vir jou as wat Hy vir Maria Magdalena en Paulus gehad het. Hy ken die wonde wat mense, omstandighede en sonde in jou lewe gelaat het. Hy weet waarmee jy worstel, die gewoontes en verslawings wat jou verhoed om die lewe van oorvloed te leef wat Hy vir jou in gedagte het. Dit is ook sy begeerte en sy plan om daardie wonde te heel. God wil nóú jou hart genees. Jy hoef nie te wag om die krag van God te ervaar nie. God wil hê dat jy só moet lewe dat jy ontvanklik sal wees vir al die liefde en seëninge wat Hy vir jou wil gee. 

Laat die verhale van Maria Magdalena en Paulus jou vervul met 'n begeerte om meer van God te beleef. Laat dít wat God in ander se lewens gedoen het, by jou 'n verlange na vore bring om deur God self genees te word. Wag op die Here, maak jou hart vir Hom oop en laat Hy in jou doen wat Hy belowe het. Hy het sy genesing, 'n herskepping en 'n oorvloedige lewe beloof. Al wat jý hoef te doen, is om die gawe van genesing wat Hy aanbied, vandag nog te aanvaar terwyl jy die leiding van die Heilige Gees volg. 

Bestee tyd om tot God se hart te pleit dat Hy jou vandag sal genees wanneer jy nou tyd aan begeleide gebed afstaan. 

Begeleide Gebed:

1. Bepeins God se begeerte om, soos die Skrif sê, enige gebroke dele van jou lewe te genees.  

“Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde” Psalm 147:3. 

“Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees” 1 Petrus 2:24.

“Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon ...” Psalm 103:2-4.

2. Vertel vir God van al die gebroke plekke in jou hart. Jou wonde mag dalk uit jou kinderdae dateer of net uit gister. Hoe dit ook al sy, God wil alles genees wat verhoed dat jy 'n oorvloedige lewe in Hom kan lei.  

“Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees! Bevry Ú my, dan sal ek vry wees! Dit is vir U wat ek wil loof” Jeremia 17:14.

3. Gaan met God se leiding oor tot die daad. Soms kom genesing deur vergifnis, 'n gesprek of om ekstra tyd aan 'n gesprek met God te wy. Vra Hom hoe Hy voel oor enige wonde uit jou verlede, enige gebroke verhoudings of enige herhalende sonde in jou lewe. Skryf neer wat Hy sê. 

Genesing is dikwels 'n proses, maar wees verseker dat God jou graag deur elke stap wil lei. As Hy dit vir jou op die hart druk om iemand te vergewe of om 'n moeilike gesprek te voer, glo dat dit die beste vir jou is. Dit mag dalk vandag moeilik wees, maar dit sal jou lewe op die lange duur net bevoordeel. Selfs al het die persoon wat jou seergemaak het al gesterf, kan jy steeds daardie persoon vergewe. Bestee tyd in God se teenwoordigheid namate hierdie kwessies na vore kom en laat Hom toe om die gebroke dele van jou lewe te genees. God beplan vir jou genesing en herskepping — en daardie nuwe lewe is nóú vir jou beskikbaar. 

Verdere Leeswerk: Psalm 147

Dag 11Dag 13

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/