40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld
Verlustig Jou in God se Liefde
Weeklikse Oorsig
Ons wy hierdie week daaraan om ons toegeneentheid tot God na vore te bring deur ons denke te vernuwe. Jou denke is die deurgang na jou emosies. Dít wat jy dínk jou toegeneentheid waardig is, is dít wat jou denke uiteindelik sal ontvang. Dus, namate ons meer van God se oorweldigende goedheid begin verstaan, sal ons van nature ons harte vir Hom gee. Mag jy hierdie week geroer word deur die onvoorwaardelike liefde van jou hemelse Vader wanneer sy volmaakte karakter op groter, lewensveranderende maniere aan jou geopenbaar word.
Skrifgedeelte: “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle” Johannes 17:26.
Oordenking:
Johannes 17 is 'n ontsaglik betekenisvolle Skrifgedeelte vir hedendaagse Christene. Jesus het presies in ooreenstemming met die wil van die Vader, in onderdanigheid aan Hom, gebid tydens sy aardse bestaan. Daarom sal God alles waarvoor Jesus gebid het, laat gebeur. Hul gemeenskaplike begeertes vorm deel van die prag van hul eenheid. In Johannes 17:26 bid Jesus tot die Vader: “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.” Bid jou dit aan! Jesus sê dat ons dieselfde liefde in ons kan hê as waarmee God die Vader vir Jesus liefgehad het. Dink aan die oorvloedige liefde wat die Vader vir sy Seun gehad het en dink dan daaraan dat God dieselfde oorvloed van liefde vir jou het! Jy is sy geliefde, sy kosbare besitting. Jou hemelse Vader het sy eie Seun prysgegee om 'n persoonlike verhouding met jou te kan hê, sodat Hy sy enorme liefde op jou kan uitstort.
Die Bybel beskryf vir Dawid as 'n man na God se hart (Handelinge 13:22). Hy was 'n man wat homself in die liefde van God verlustig het en wat die vreugde van God se teenwoordigheid gedurende verskillende stadiums van sy lewe ervaar het. In Psalm 16:5-11 het Dawid geskryf: “Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer. Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek veilig. U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.” Wanneer ek Dawid se woorde lees, kan ek nie help om sy vreugde en sekerheid te begeer nie. Ek word gevul met 'n verlange om daardie soort liefde sélf te ervaar. Psalm 16 laat my ook daarna verlang om God as my “afgemete deel” te hê en ek wil met my hele hart ook “net wat mooi is” ervaar. Wat van jou?
Laat toe dat jou begeertes na vore gebring word om self ook die onmeetbare liefde te ervaar waarmee God vir Jesus liefgehad het. Weet dat dit nie net jóú begeerte is om liefde te ervaar nie, maar ook die begeerte van jou hemelse Vader (Johannes 17:26). In watter areas van jou lewe het jy nodig om “die Here altyd by jou" te hê? Sodat jy “nie struikel nie?” Van die Here kom waarlik “net wat mooi is.”
Wy vandag tyd daaraan om jouself eenvoudig te verheug in jou God en laat sy teenwoordigheid toe om die droë, dorre plekke van jou hart te deurspoel. Jy is sy uitverkorene, die appel van sy oog. God het sy eie Seun prysgegee vir die geleentheid om nou 'n ontmoeting met jou te hê. Maak eenvoudig jou hart oop en vind vreugde in die liefde van jou hemelse Vader.
Begeleide Gebed:
1. Bepeins die woorde van Johannes 17:26. Laat die Skrif toe om aan jou 'n dieper gewaarwording te gee van die omvang van God se liefde vir jou.
“... sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle” Johannes 17:26.
2. Waar het jy nodig om jou vandag in die liefde van God te verlustig? In watter areas weerspieël jou lewe nie die oorvloedige blydskap wat Dawid in Psalm 16 beskryf nie?
“... By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is” Psalm 16:11.
3. Verlustig jou eenvoudig in God se liefde vir jou, dieselfde liefde wat Hy vir sy Seun, Jesus Christus koester.
“Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer” Psalm 37:4.
Elke dag is 'n stryd om jouself in die liefde van God te anker. Dit is egter 'n stryd wat die moeite werd is. Dit is 'n stryd wat in die dieptes van jou siel geveg word — die stryd tussen wat vir God belangrik is en wat vir die wêreld saak maak. Wanneer jy meer ruimte vir God maak om te vul, deur van die wêreld se gewoontes ontslae te raak, sal sy hart en gedagtes jou eie word. Wat vir Hom belangrik is, sal vir jou belangrik word. Om sy liefde in perspektief te sien, sal so natuurlik word soos om asem te haal. Die volheid van 'n verhouding met Hom behoort ons bron, ons afgemete deel, krag en begeerte te wees. Gee jouself vandag oor aan sy liefderyke goedhartigheid en laat vaar die bekommernisse van die wêreld in die lig van sy goedheid en genade.
Verdere Leeswerk: Johannes 17
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More