40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 10 VAN 40

Ons Vader God

Weeklikse Oorsig

Ons wy hierdie week daaraan om ons toegeneentheid tot God na vore te bring deur ons denke te vernuwe. Jou denke is die deurgang na jou emosies. Dít wat jy dínk jou toegeneentheid waardig is, is dít wat jou denke uiteindelik sal ontvang. Dus, namate ons meer van God se oorweldigende goedheid begin verstaan, sal ons van nature ons harte vir Hom gee. Mag jy hierdie week geroer word deur die onvoorwaardelike liefde van jou hemelse Vader wanneer sy volmaakte karakter op groter, lewensveranderende maniere aan jou geopenbaar word. 

Skrifgedeelte: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie” 1 Johannes 3:1.

Oordenking:

As ‘n volgeling van Jesus is jy deel van die familie van God. Laat daardie waarheid by jou insink. Dink na oor wat dit beteken om God, die Skepper van die heelal, die verpersoonliking van volmaakte liefde, as jou Vader te hê. So dikwels verloor ons die feit uit die oog dat God ons Vader is en kyk na Hom deur perspektiewe wat nie in lyn met die Skrif is nie. Ons kyk na God deur die bril van die wêreld en ongelukkige ervarings, eerder as ‘n openbaring van Hom as ‘n goeie Vader deur die rewolusionêre lering van Jesus. 

In Matteus 7:9-11 leer Jesus ons só: “Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” Jy het ‘n Vader wat daarvan hou om goeie gawes vir jou te gee. Ons dink dikwels aan God as ‘n harde slawedrywer wat nooit toelaat dat sy kinders die lewe geniet nie. Ons neem aan dat Hy nee sal sê vir enigiets wat ons plesier verskaf, asof Hy net wil hê ons moet meer kere kerk toe gaan, meer bid of meer van ons tyd en geld gee. Dit is egter nie jou Vader se hart nie. Jou God is die outeur van vreugde, plesier, geluk en goeie gawes. Hy wil graag hê dat jou lewe elke dag gevul sal wees met die volmaakte gawes wat Hy vir jou beplan het. Johannes 10:10 sê: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” As jou volmaakte herder, sal God jou getrou lei en alles vir jou gee wat jy nodig het om ‘n vol lewe te leef. 

In Matteus 19:14 toon Jesus vir ons die Vaderhart wanneer Hy sê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” God, as ons Vader, wil graag hê dat ons, as sy kinders, net eenvoudig tyd saam met Hom moet deurbring. Hy verlang dat ons sy liefde en omhelsing sal leer ken sodat dit die fondament kan wees van alles wat ons doen. God wil eerder graag jou hart as jou dade hê. Sy begeerte vir die geleentheid om ‘n verhouding met jou te hê was so groot dat Jesus die volheid van God se onvoorwaardelike liefde getoon het deur sy lewe gewilliglik vir jou neer te lê. Nêrens in die Skrif sien ons God as iets anders as liefdevol en goed nie. Sien God vir die goeie Vader wat Hy is en hardloop met oop arms na Hom toe en maak jou hart oop sodat jy die volheid van die lewe in sy ewige omhelsing kan vind. 

Ruim tyd in vir die begeleide gebed en laat God se teenwoordigheid toe om wanopvattings wat jy oor Hom het, te oorkom. Dikwels, as ons al ‘n geruime tyd ‘n kerk bywoon, het ons net ‘n teologiese begrip van God die Vader en laat ons nie tyd en ruimte toe vir Hom om ons harte te genees en ons lewens te verander nie. Moenie toelaat dat dit vandag gebeur nie! Jy het ‘n goeie Vader wat jou liefhet en graag ‘n ontmoeting met jou wil hê. Ruim vandag tyd in vir die heerlikheid van ‘n herstelde verhouding. 

Begeleide Gebed:

1. Verwelkom God se teenwoordigheid terwyl jy vandag die Skrif bepeins.

“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook ...” 1 Johannes 3:1.

“... Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle” Matteus 19:14.

2. Vra vir God hoe Hy oor jou voel. Laat jou siel rustig raak en luister om ‘n openbaring van sy hart te ontvang. 

“God het elkeen van ons lief asof daar net een van ons is.” Augustinus

“Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie” Jakobus 1:17.

3. Waar in jou lewe moet jy God se karakter toepas? Op watter maniere lewe jy asof God ‘n slawedrywer eerder as ‘n goeie Vader is? Op watter maniere probeer jy vir jouself voorsien eerder om die voorsiening te ontvang wat God alreeds vir jou belowe het? 

“Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” Matteus 7:9-11.

“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” Matteus 6:31-33.

Vir elke beproewing en omstandigheid wat jy vandag ondervind, het God ‘n plan om jou perfek daardeur te lei. Hy is nie ‘n God wat agteroor sit en kyk hoe jy die lewe probeer hanteer nie. Hy wil betrokke raak in alles wat jy doen, net soos ‘n volmaakte vader sy kinders help om suksesvol te wees en met vreugde te leef. Vra vir God wat Hy oor jou dade dink. As jy vandag ‘n probleem teëkom, vra die Heilige Gees vir leiding. Die allerbeste manier om te leef, is om God deel te maak van jou dag. Hy weet alles en het ‘n volmaakte plan vir jou! Ruim vandag tyd in om na God te luister en vertrou op sy leiding. 

Verdere Leeswerk: 1 Johannes 3

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/