40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld
Die Heerlikheid van God se Liefde
Weeklikse Oorsig
Ons wy hierdie week daaraan om ons toegeneentheid tot God na vore te bring deur ons denke te vernuwe. Jou denke is die deurgang na jou emosies. Dít wat jy dínk jou toegeneentheid waardig is, is dít wat jou denke uiteindelik sal ontvang. Dus, namate ons meer van God se oorweldigende goedheid begin verstaan, sal ons van nature ons harte vir Hom gee. Mag jy hierdie week geroer word deur die onvoorwaardelike liefde van jou hemelse Vader wanneer sy volmaakte karakter op groter, lewensveranderende maniere aan jou geopenbaar word.
Skrifgedeelte: “... en leef in liefde, net soos Christus ons liefgehad, en Homself ter wille van ons oorgegee het as 'n offergawe aan God, as 'n offerande met 'n aangename geur” Efesiërs 5:2 (AFR20).
Oordenking:
Dink vir ‘n oomblik na oor Jesus se dood. Stel jou voor hoe aaklig die toneel moes wees om te aanskou. Probeer nou om dit vanuit die Vader se oogpunt te sien. Dink na oor alles wat met Jesus gebeur het — oor wat Hy gesien, gehoor, gevoel, geweet en oor gehuil het. Dink na oor hoe die Vader gevoel het om die sonde van die wêreld, jou en my sonde, op die skouers van sy volmaakte en onskuldige Seun te plaas.
Ek vra dat jy jou dit slegs om een rede probeer voorstel — om 'n bietjie insig te kry van die onmeetbare liefde van God soos dit in Efesiërs 5:2 beskryf word: “... en leef in liefde, net soos Christus ons liefgehad, en Homself ter wille van ons oorgegee het as 'n offergawe aan God, as 'n offerande met 'n aangename geur.” Toe ek daardie vers vir die eerste keer gelees het, het ek ‘n lewensveranderende frase oorgeslaan: “aangename geur.” Ten spyte van alles wat die Vader daardie dag aanskou het, en alles wat Jesus getrou deurgemaak het, het God nog steeds Jesus se dood as ‘n “aangename geur” beskou. Hoe is dit moontlik? Hoe kon enigiemand oor Jesus se dood as ‘n aangename geur dink, wat nog te sê die Vader self?
Dis hoe bomenslik diep God se liefde vir ons is, dat Hy die gruweldade wat teen sy Seun gepleeg is as ‘n aangename geur beskou het. Dis hoe groot God se begeerte is om verhoudings met ons te herstel, dat Hy sy Seun se dood as ‘n goeie herinnering beskou.
Ek dink nie ons, as God se kinders, begryp die gevoel van vreugde wat die Vader ervaar as ons tyd met Hom deurbring nie. Ek dink nie ons verstaan hoe diep sy liefde vir ons is, dat Hy die hoogste prys sou betaal, net om weer ‘n onbelemmerde verhouding met ons te hê nie. Terwyl ek oor die Skrif nadink, het ek besef dat ek nooit eens een keer daaraan gedink het hoe onverpoosd God moes gewerk het sedert Adam en Eva gesondig het nie, net om weer sy mense te geniet — om saam met hulle te wandel soos aan die begin.
Jesus se dood was ‘n keerpunt in die omvang van die ewigheid. Sy offer het 'n verandering beteken van die hele mensdom wat God teëstaan, om die kroon van sy skepping na sy kudde te laat terugkeer. Toe God die sonde van die mensdom op Christus se skouers geplaas het, was Hy in staat om die posisie van die vader in die verhaal van die verlore seun in te neem, en te hardloop om ons te ontmoet — sy kinders wat uiteindelik vir ewig na Hom toe terugkeer.
God het so uitgesien na gemeenskap met jou, dat Hy die hoogste prys betaal het. Hy ag jou die dood van sy Seun waardig. Laat daardie waarheid jou identiteit bepaal. Laat God se liefde vandag die fondament van jou sieninge, gedagtes, emosies en dade wees. Mag jou hart geroer word om in die lig van God se onvoorwaardelike liefde te leef. Mag jy gegrond wees in die onwrikbare aard van jou hemelse Vader. Mag jy vandag in die ewige omhelsing van God lewe, in die wete dat jy volkome en vir ewig sy geliefde is.
Begeleide Gebed:
1. Bepeins Jesus se offer. Laat toe dat die Skrif ‘n fondament van onvoorwaardelike liefde in jou hart vorm.
“Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring ...” 1 Petrus 3:18.
“Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en 'n ewige verlossing tot stand gebring” Hebreërs 9:12.
2. Dink na oor wie jy as kind van God is. Bou jou identiteit rondom die waarheid in die Skrif.
“Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” Johannes 1:12.
“Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys” 1 Petrus 2:9-10.
3. Vra vir God om die diepte van sy liefde aan jou te openbaar. Rus in die werklikheid van sy nabyheid. Laat Hy jou hart tot oorlopens toe met sy liefde vul.
“… dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God” Efesiërs 3:17-19.
“En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom” 1 Johannes 4:16.
Moenie toelaat dat die mening van ander jou van die stewige fondament van God se liefde af wegneem nie. Wat is die mens se mening tog in vergelyking met God se siening? As God sy verhouding met jou die moeite werd ag om Jesus se dood te regverdig, is jy waardevol. Laat die wispelturige gedagtes van ander opsy staan vir die troue, lewegewende liefde van jou hemelse Vader. Rus in sy teenwoordigheid en vind hoop en sekerheid in die waarheid dat sy arms altyd vir jou oop is — gereed om jou te omhels net soos jy is.
Verdere Leeswerk: 1 Petrus 2
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More