40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld
Vryheid kom deur God te Geniet
Weeklikse Oorsig:
Hoekom behoort ons tyd alleen met God deur te bring? Hoekom is dit so belangrik om God op 'n afgesonderde plek te ontmoet? Voordat ons nie 'n begrip van die onmeetbare waarde en beskikbaarheid van 'n ontmoeting met God het nie, sal ons nooit op 'n gereelde basis hierdie fundamentele, noodsaaklike praktyk beoefen nie. Soos ons gaandeweg ontdek dat dit God se begeerte is om ons te ontmoet sodat ons die diepte van sy liefde kan ervaar, bid ek dat jou lewe gekenmerk sal word deur 'n nuwe genade om die lewende God op 'n gereelde basis en op 'n kragtige manier te ontmoet.
Skrifgedeelte: “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” 2 Korintiërs 5:17.
Oordenking:
Jy is geskep om God te geniet. Die korter weergawe van die Westminister kategismus sê: “Die mens se eintlike doel is om God te verheerlik en Hom vir ewig te geniet.” Dawid skryf in Psalm 16:11 (NLV): “U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd.” Ons is ontwerp om genot in God te soek. Ons is geskape om onsself in sy goedheid, sy voorsiening, die wonders van sy skepping en die eenvoud van sy onvoorwaardelike liefde te verlustig.
So belangrik — so kragtig — is dit om in God genot te vind dat dit die krag het om ons van sonde vry te maak. Jy sien, wanneer ons nie in God genot soek nie, sal ons dit in die wêreld soek. Ons kan nie sonder vreugde lewe nie. Ons is nie geskep om sonder geluk, liefde, passie en vreugde te leef nie.
Die meeste van ons is geïndoktrineer met die idee dat ons sondig omdat ons nie onsself kan beheers nie. Ons glo dat indien ons net ontslae kan raak van die behoefte aan plesier en genot, ons vry sal wees. Selfbeheersing is uiters belangrik as ons vryheid van sonde wil beleef, maar ons sal nooit self ontslae kan raak van ons groot behoefte om die lewe te geniet nie. Ons sal nooit ophou om plesier te soek nie, want ons is gemaak om bevrediging in die rykdom van God se liefde te vind.
Voordat jy nie ‘n daaglikse roetine vestig om God te geniet nie, sal jy nooit ware vryheid van sonde ervaar nie. Voordat jou begeerte om ten volle geken en geliefd te wees, nie deur die rykdom van God se liefde vir jou bevredig word nie, sal jy nooit ophou om daarna op ander plekke te soek nie. Voordat jy sonder twyfel weet dat God vir jou omgee, aan jou dink en jou wil aanvaar, sal jy nooit ophou om te probeer om daardie behoefte in ander te bevredig nie.
Psalm 34:9 (NLV) sê: “Beproef en sien dat die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou!" Ruim vandag tyd in om te ondervind en te sien hoe goed jou hemelse Vader waarlik is. Laat Hom toe om jou ‘n openbaring van sy liefde te gee. Rus in sy teenwoordigheid. Terwyl jy God geniet, laat toe dat Hy jou nader aan sy hart trek en verder weg van die sorge en strewes van die wêreld.
Begeleide Gebed:
1. Dink na oor jou behoefte aan vreugde en plesier. Kyk na jou eie lewe en erken jou behoefte aan passie, ‘n doel, geluk, vrede en vreugde.
2. Hoe soek jy in die wêreld vervulling? Watter sonde in jou lewe is die gevolg van jou onvermoë om ten volle in God bevredig te wees? Na wie of wat gaan jy om vervulling te vind in plaas van na God toe?
3. Ruim tyd in om God toe te laat om jou verlange te bevredig. Stel jou hart oop vir God sodat Hy die diepte van sy liefde aan jou kan onthul. Vra dat Hy vir jou ‘n openbaring gee van hoe baie Hy van jou hou, jou wil hê en jou geniet. Laat sy liefde vir jou, jou nader aan Hom trek.
“ Nader tot God en Hy sal tot julle nader” Jakobus 4:8.
“Beproef en sien dat die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou!” Psalm 34:9 (NLV).
“U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is” Psalm 16:11.
1 Korintiërs 2:9-10 sê: "Maar soos daar geskrywe staan: 'Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,' en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God." Deur middel van die Heilige Gees kan jy weet hoe God oor jou voel. Jy het toegang tot ‘n onuitputlike rykdom van toegeneentheid en onvoorwaardelike liefde. Bloot omdat God jou liefhet, het Hy ondenkbare dinge vir jou voorberei. Mag jy vandag volkome vervulling vind in die goedheid en liefde van jou hemelse Vader.
Verdere Leeswerk: 2 Korintiërs 5
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!
More