Die Vader is Lief vir Jou, deur Pete BriscoeVoorbeeld
Dag 15
Die Vader se Kern Eienskap
Dit is verstommend dat God sondaars kan liefhê; tog is dit waar. God is lief vir wesens wat liefdeloos en (uit 'n menslike oogpunt) onbeminlik geword het ... Liefde tussen mense word deur iets in die geliefde ontwaak, maar God se liefde is vry, spontaan, ongevraagd, sonder oorsaak. God het mense lief omdat Hy gekies het om hulle lief te hê. — J. I. Packer, Knowing God
God is groot en onpeilbaar. Daar is meer omtrent God as wat ons ooit op hierdie aarde sou kon verstaan. Gelukkig, uit sy ongelooflike groot self, het Hy gekies om die belangrikste en mees toeganklike dele van Homself aan ons te openbaar. En daar is een eienskap wat Hy geopenbaar het wat die ongelooflikste van almal is.
“… lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte …" (Eksodus 34:6-7).
Hy is liefdevol.
Hierdie een eienskap van God is die kern van alles waarna ons verlang; die antwoord op al die vrae wat ons vra oor om Hom te ken en Hom bekend te maak.
"Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes" (1 Johannes 4:7-10).
Diep binne-in elkeen van ons is die begeerte om liefgehê te word. En terwyl ons dalk 'n beperkte mate van liefde kan vind in die dinge wat die wêreld ons bied, kan die ware liefde wat ons soek net in Hom gevind word, want Hy is die liefde wat ons begeer.
O Vader, ek kan U nie genoeg bedank vir wat U vir my gedoen het nie! U liefde is oneindig en onvoorwaardelik. Ek bid dat U daardie liefde in my lewe sal openbaar terwyl ek met ander omgaan. Voor u liefde was ek verlore, maar nou is ek gevind! Leef deur my op so 'n manier dat u liefde ander na U toe bring! Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Ons word van kleins af geleer dat God ons Vader is en ons sy kinders is. Dit is nie altyd maklik om met God as Vader te praat nie, veral as ons aardse vaders gesukkel het om die liefde te betoon waarna ons gesmag het. In hierdie 16-daglange leesplan vestig Pete Briscoe ons aandag op die God wat al ons verlange na liefde bevredig deur te beklemtoon hoe die Skrif Hom as ons goeie en volmaakte Vader openbaar.
More