Noël: Kersfees Is Vir AlmalVoorbeeld
Hy Is Alles Vir Almal
Deur Danny Saavedra
"Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal heers, en hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors" (Jesaja 9:5).
'n Mens kan dit nie ontken dat 'n slimfoon vir almal 'n nuttige toestel is nie. Ek dink nie daar is 'n lewende siel wat nie op een of ander manier kan baat vind daarby om 'n slimfoon te hê nie. Net so, is vuur tot voordeel van die mensdom — vir hitte, kosmaak, as brandstof, noem maar op.
Daar is verskeie produkte en hulpbronne in die wêreld wat vir almal gemaak is, om almal se lewens oneindig beter te maak. Op dieselfde manier is die Kersverhaal ook vir almal! Die Kersverhaal het die krag om enigeen en almal te verander, om mense lewens meer wonderlik, waardevol, bevredigend en vreugdevol te maak, ongeag wie hulle is of wat hulle gedoen het, watter taal hulle praat of van watter land of kultuur hulle deel is. Hoekom? Want dis die verhaal van Jesus, die Seun van God, wat alles is en alles in sy hand hou en deur wie alles bestaan (Johannes 1:3; Kolossense 1:17), en gekom het om almal te red (Johannes 3:16 & 36; 6:40; 11:25).
Meer as 700 jaar voordat Hy gebore is, het die profeet Jesaja sy koms aan die mense van Israel voorspel; die Messias, die beloofde Saad wat die kop van die slang sou verbrysel en deur wie al die nasies in die wêreld geseën sou word. Jesaja het 'n pragtige kykie gekry, 'n visioen met profetiese insig, waarin vir hom gewys is dat die mens se hoop en toekoms nie in homself berus nie, maar in die Seun wat gegee sou word — deur die Vader as 'n losprys vir baie geoffer (Jesaja 53). Hierdie Kind is alles wat ons nodig het, alles wat ons begeer en alles waarvoor ons ooit kon hoop.
Hoe is dit moontlik? Jesaja verduidelik dit so:
Wonderbare Raadsman
Alle wysheid kom van Hom af! Spreuke 2:6-7 sê: "Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig. Hy laat eerlike mense sukses behaal en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe." Hy is ons bron van alle wysheid en insig. Hy lei ons op die regte pad en leer ons om 'n betekenisvolle en vervulde lewe te lei. Hy ken ons beter as wat ons onsself ken, en Hy verstaan ons! Hy was ten volle mens, Hy weet wat dit behels om mens te wees. Hebreërs 4:15 herinner ons hieraan: "Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie."
Magtige God
"Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen" (1 Petrus 5:11). Sterkte, krag, moed, deursettingsvermoë ... dit kom alles van Hom af. Die Woord herinner ons gereeld daaraan dat sy krag vir almal beskikbaar is wat dit van Hom vra! Psalm 46:2 verklaar: "God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood." Filippense 4:13 herinner ons: "Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee." In 2 Korintiërs 12:9 verseker Hy ons deur te sê: "... My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is ...”
Ewige Vader
Ons Verlosser is een met die Vader. Hy is die weg na die Vader. In Johannes 14:9 (NLV) verklaar Hy: "... Wie My reeds gesien het, het ook reeds my Vader gesien ..." Hebreërs 1:3 (NLV) beskryf Hom so goed: "Die Seun weerkaats God se heerlikheid, en Hy is die presiese ewebeeld van wie God werklik is. Deur sy magtige bevel hou Hy die ganse heelal in stand ..." Vriende, Hy gaan voor jou uit, en Hy is altyd by jou. Hy is die Vader van al die gelowiges, die begin en voleinder van ons geloof.
Vredevors
Jesus het gekom sodat ons in 'n regte verhouding met God kan staan. Hy het gekom om ons met die Vader te versoen, deur die skeiding te oorbrug en die prys vir ons sondes te betaal. Voor Hy na die hemel terug is, het Hy gesê: "Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle ..." (Johannes 14:27 NLV). Sy vrede, wat alle verstand te bowe gaan, het die krag om ons te beskerm, om hoop te gee, om versekering te gee en rus te gee. Hy nooi ons om na Hom toe te kom vir rus, om "al [ons] bekommernisse aan God oor [te gee], want Hy gee vir [ons] om" (1 Petrus 5:7 NLV).
Vriende, daar is nie 'n enkele ding wat jy nodig het of wil hê, wat Christus Jesus nie kan bied nie. Daar is nie 'n enkele goeie en mooi ding in alle ewigheid wat 'n verhouding met Jesus nie vir elkeen kan voorsien nie. Sy krag, wysheid, vrede, liefde, genade, deernis, vriendelikheid en sterkte is vir ons almal. Dis beskikbaar vir almal wat Hom aanneem. Elke belofte, elke seën, elke goeie en volmaakte geskenk ... is alles vir jou!
Aangaande hierdie leesplan
Oor die volgende 12 dae gaan ons deur die Kersfeesverhaal reis en nie net ontdek waarom dit die grootste verhaal van alle tye is nie, maar ook dat Kersfees waarlik vir almal bedoel is!
More