Noël: Kersfees Is Vir AlmalVoorbeeld
Goeie Nuus om met Almal te Deel
Deur Danny Saavedra
"Baie mense het al 'n verhaal geskryf oor al die groot dinge wat onlangs onder ons gebeur het. Hulle het gebruik gemaak van inligting wat aan ons deurgegee is deur mense wat al hierdie dinge self meegemaak het en wat God al van daardie tyd af getrou gedien het. Ek het besluit om ook oor al hierdie gebeure aan u te skryf, hooggeagte Teofilus. Ek verseker u dat ek deeglik navorsing oor hierdie groot verhaal gedoen het sodat ek alles reg aan u kan oorvertel, presies net soos dit gebeur het. U sal deur die loop van my verhaal agterkom dat alles wat u in die kerk geleer het, die volle waarheid is" (Lukas 1:1-4 DB, beklemtoning bygevoeg).
"Nadat die engele teruggekeer het na die hemel toe, het die skaapwagters opgewonde vir mekaar gesê: 'Waarvoor wag ons nog? Kom ons gaan dadelik Betlehem toe. Kom ons gaan soek Hom van wie die Here ons pas vertel het.' Hulle het toe haastig soontoe gegaan. Daar het hulle vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê. Die skaapwagters kon hulle oë nie glo nie. Hulle het dadelik vertel wat die engele vir hulle oor die Kindjie gesê het. Almal was aangegryp deur die skaapwagters se verhaal ..." (Lukas 2:15-19 DB, beklemtoning bygevoeg).
Volgens 'n sosiologiese proefneming wat in 2010 gedoen is, versprei goeie nuus vinniger as slegte nuus. Dr. Johan Berger, 'n wêreldbekende kundige oor mondelingse oorvertelling, virale bemarking en sosiale invloed, som die bevindings van sy uitgebreide studie so op: "As ek sopas 'n verhaal gelees het wat die manier verander waarop ek myself en die wêreld verstaan, wil ek met ander praat oor wat dit beteken."
Is dit nie wonderlik en tot 'n mate ook verrassend nie? Baie mense glo dat slegte nuus baie vinniger as goeie nuus versprei, maar blykbaar is dit nie die geval nie. Ek veronderstel dit is soos die ou gesegde sê: "jy vang meer vlieë met heuning as met asyn". Dink daaroor ... of dit die lekkerste kos is wat jy al ooit geëet het, 'n puik fliek wat jy pas gesien het, 'n boeiende boek wat jy nie kan neersit nie, 'n wonderlike geskenk wat jy ontvang het, jou droom werk wat jy gekry het, of 'n wonderlike lewensveranderende aankondiging — wanneer iets wonderliks gebeur, is die eerste ding wat ons gewoonlik wil doen om dit met ander te deel!
Met Kersfees vier ons die wonderlikste nuus wat die mensdom ooit ontvang het: die geboorte van Jesus. Anders as die smaaklikste hamburger wat jy nou net geëet het of enige stukkie opwindende nuus wat waarskynlik net op 'n klein groepie mense 'n indruk maak, is die koms van Jesus Christus, die Verlosser van die wêreld, goeie nuus vir almal! Dit is die soort nuus wat ons dringend, onbeskaamd opgewonde behoort te deel met elke mens met wie ons in aanraking kom. Geen nuus behoort vinniger te versprei as die goeie nuus dat God dit vir sondaars moontlik gemaak het om in 'n regte verhouding met Hom te kan leef nie — verlos van ons sondes en as kinders in sy familie opgeneem.
In vandag se gedeelte sien ons twee gevalle van mense wat uitgegaan het om Jesus se goeie nuus met ander te deel. Eerstens sien ons vir Lukas wat ongelooflike dinge gehoor en sekerlik ook gesien het — dinge wat hy geweet het hy met álmal moontlik moes deel.
Lukas, 'n Griek na wie niemand anders as die apostel Paulus verwys het as "die geliefde geneesheer", wat die unieke eer gehad het as die enigste heiden om 'n Bybelboek te skryf. Terwyl 'n geneesheer vandag idees van glans en aansien mag oproep, was geneeshere destyds in die vroeë kerk dikwels diensknegte. Vermoedelik was Teofilus sy beskermheer, moontlik 'n Romeinse heerser, aangesien die benaming "hooggeagte" gewoonlik bedoel was vir diegene in 'n magsposisie in die Romeinse Ryk. Nogtans het Lukas hom vertrou met die boodskap van 'n Koninkryk wat hoër en verder strek as Rome en 'n Koning wat belangriker as die Keiser is.
In sy aanhef vertel Lukas vir Teofilus dat die boodskap wat hy van ooggetuies ontvang het oor die lewe en prediking van Jesus, gedeel moet word, sodat hy — en alle mense wat die boeke Lukas en Handelinge gelees het — die boodskap van hoop kan verstaan. Uit die merkwaardige besonderhede wat ons in die Evangelies kry, is dit duidelik dat Lukas met verskillende sleutelpersone gepraat het, insluitend Maria, Petrus, Johannes en ander wat saam met Jesus gewandel het.
'n Paar dae gelede het ons gelees van die skaapwagters wat eerste die wonderlike nuus ontvang het dat die Verlosser gebore is. Hulle het egter hierdie nuus nie vir hulleself gehou nie. Inteendeel: "Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het" (Lukas 2:17-18).
Terwyl ons Kersfees vier, bid ek dat almal sal onthou ons is geroep om die boodskap van verlossing deur Jesus met almal te deel wat God in ons lewens geplaas het. Soos die skaapwagters en Lukas, het ons 'n ongelooflike boodskap vir die hele wêreld en ons kan dit eenvoudig nie vir onsself hou nie!
Deesdae deel almal alles. Foto's, emosies, kosbare brokkies wysheid. Ons Facebook, Twitter, en Instagram tuisvoer het nooit 'n gebrek aan inhoud nie. Ons het ervaar hoe die krag van Christus ons harte verander en aan ons vrede gee ... nou moet ons hierdie fantastiese nuus met dieselfde opgewondenheid en vreugde deel as wat ons doen met 'n mooi foto op Instagram! Staan vandag 'n tydjie af om dit wat Jesus in jou lewe doen, kreatief met ander te deel.
Aangaande hierdie leesplan
Oor die volgende 12 dae gaan ons deur die Kersfeesverhaal reis en nie net ontdek waarom dit die grootste verhaal van alle tye is nie, maar ook dat Kersfees waarlik vir almal bedoel is!
More