Noël: Kersfees Is Vir AlmalVoorbeeld
Josef se Reis
Deur Danny Saavedra
"Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: 'Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos' ... Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou" (Matteus 1:20-21; 24).
Het jy jou al ooit aan iets verbind, net om uit te vind dat dit meer van jou verg as waarop jy gereken het? Die soort ding wat jou kopersberou gee? Wat bedoel ek? Wel, het jy al ooit 'n motor gekoop wat jy gedink het in 'n goeie toestand is, net om 'n paar maande later uit te vind dit het 'n nuwe verkoeler nodig en dat dit baie sou kos om te herstel? Het jy al ooit 'n werk met 'n spesifieke posbeskrywing aanvaar, net om take en verantwoordelikhede buite jou ervaringsveld te kry sonder 'n verhoging, nuwe titel of vermindering van ander verantwoordelikhede? Ons dink dikwels in hierdie oomblikke, dis nie waarvoor ek aangemeld het nie!
Hoe dink jy het Josef gevoel toe hy hoor dat sy aanstaande vrou, met wie hy nog nie 'n huweliksbed gedeel het nie, swanger is? Hoe dink jy het hy gevoel toe sy verloofde begin om vreemde, onmoontlik-om-te-glo en effens kranksinnige aansprake te maak oor 'n engel, vlekkelose bevrugting en die Messias? Dit was seker 'n moeilike pil vir Josef om te sluk toe sy beweer dat sy deur die krag van die Heilige Gees bevrug is. Die kanse is goed dat hy haar nie geglo het nie. Eerlikwaar, wie sou? Ek kan my voorstel dat hy op daardie stadium verlowingsberou ervaar het.
Wat sou jy op daardie oomblik gedoen het? Wanneer die meeste van ons in 'n situasie meer moeite ervaar as waarop ons gereken het, of wanneer dinge met 'n ooreenkoms (soos TV-diens nè?) nie verloop soos ons dit wil hê nie, sal ons by die kliëntediens kla, aandring om met 'n bestuurder te praat en dreig om ons rekening te kanselleer, totdat ons kry wat ons wil hê. In Josef se spesifieke situasie sou die meeste mense Maria se skande openbaar gemaak het. Sommige sou selfs vir Maria volgens die wet van die dag, laat stenig het. Josef was egter nie soos die meeste mense nie ...
Hoewel daar nie veel melding van Josef in die Evangelies gemaak word nie, en ons nie baie inligting oor sy lewe het nie, weet ons dit: hy was 'n goeie man. Daar is nie baie figure in die Bybel wat as "goed" beskryf word nie. Dit plaas Josef werklik in elite Bybelse geselskap tussen mense soos Noag, Daniël en Job. In Matteus 1:19 (NLV), word ons vertel: "Josef ... 'n wetsgehoorsame man ... wou haar die openbare skande spaar. Daarom het hy hom voorgeneem om die verlowing privaat te verbreek." Geen skande, geen dood nie; Hy het 'n stil, deernisvolle oplossing gekies.
Toe het 'n engel egter in 'n droom na Josef toe gekom en vir hom gesê om Maria as sy vrou te neem, want die kind in haar skoot was in werklikheid die Verlosser. Weereens kon Josef vir homself gesê het: Ek het nie hiervoor aangemeld nie. Moet ek die Verlosser grootmaak? Ek is net 'n timmerman. Ek is nie hiervoor toegerus nie. Dit is meer as waarop ek gereken het. Ek onttrek my. Hy het dit nie gedoen nie. In plaas daarvan het hy, toe hy wakker word, alles gedoen wat die engel beveel het .
Josef was met 'n moeilike situasie gekonfronteer. Hy is gevra om met 'n vrou te trou wat voor hul huwelik swanger was en die kritiek, skinder en skande te verdra wat sekerlik sou volg. Jy lees nie van 'n groot feestelike huwelik vir Maria en Josef nie. Dit is baie waarskynlik dat hulle getrou het teen die wense van albei families. Josef het dit moedig verduur en sy getrouheid aan die Here bewys deur Jesus as sy eie seun groot te maak. Hy was gehoorsaam te midde van 'n uitdagende situasie.
Tydens ons lewens mag moeilike omstandighede ons in die gesig staar sodat ons sê: ek het nie hiervoor aangemeld nie. Ons mag aan allerhande beproewings blootgestel word, ons mag geroep word om 'n onmoontlike visie uit te voer, of om uit ons gemaksone te beweeg. Die saak staan so: God gee ons dikwels meer as waarop ons gereken het. Hy plaas ons dikwels in omstandighede wat ons nie self kan hanteer nie. Hy doen dit sodat ons getrou, gehoorsaam en volledig op sy krag, wysheid en leiding sal staat maak om ons daardeur te dra.
Kom ons verbind ons, net soos Josef, tot gehoorsaamheid en getrouheid, ongeag die koste. Kom ons onthou waarvoor ons aangemeld het — om God se genade te ontvang deur ons lewens aan Hom oor te gee en sy Seun te volg. Laat ons aan die belofte vashou dat sy genade vir ons genoeg is en dat sy krag tot volle werking kom wanneer ons swak is ... veral in die oomblikke waar daar meer van ons verwag word as waarop ons gereken het en meer as wat ons kan hanteer.
Aangaande hierdie leesplan
Oor die volgende 12 dae gaan ons deur die Kersfeesverhaal reis en nie net ontdek waarom dit die grootste verhaal van alle tye is nie, maar ook dat Kersfees waarlik vir almal bedoel is!
More