Noël: Kersfees Is Vir AlmalVoorbeeld
Die Teenwoordigheid van Jesus
Deur Danny Saavedra
"'n Paar dae later het Maria haastig na die heuwelland van Judea vertrek, na die dorp waar Sagaria gewoon het. Sy is die huis in en het vir Elisabet gegroet. Met die geluid van Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se skoot beweeg en Elisabet is met die Heilige Gees vervul. Sy het met 'n harde stem uitgeroep: ‘Jy is bo alle ander vroue deur God geseën, en jou kind is geseënd. Wat 'n eer is dit dat die ma van my Here my besoek! Toe jy ingekom en my gegroet het, het my kindjie van vreugde beweeg die oomblik toe ek jou stem hoor! Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het" (Lukas 1:39-45 NLV).
Daar is 'n pragtige lied deur Bryan en Katie Torwalt met die volgende lirieke: “Wanneer U die vertrek binnekom, verander alles; duisternis begin bewe voor die lig wat U bring. Wanneer U die vertrek binnekom, is elke hart brandend en niks anders maak saak as om aan u voete te sit en U te loof nie” (uit Engels vertaal).
Min dele in die Bybel vul my met soveel emosie soos hierdie Skrifgedeelte in Lukas 1. Stel jouself die toneel vir 'n oomblik voor ... Die oomblik toe die engel Gabriël met Maria die verstommende, wonderbaarlike, wêreld-veranderende nuus deel dat die langverwagte Messias deur haar gebore sou word, het sy begin pak om haar niggie Elisabet te besoek, wat ook swanger was, soos die engel vir Maria gesê het.
'n Paar dae later het sy daar aangekom en haar niggie gegroet, heel waarskynlik met die gebruiklike "Vrede vir jou." Die oomblik wat sy die vertrek binnestap, die oomblik wat Maria se stem Elisabet se ore bereik, gebeur iets wonderlik en uitsonderlik: die baba in haar skoot het "... vol vreugde begin beweeg ..." (Lukas 1:41 DB). Slegs met die aanhoor van haar stem het die ongebore Johannes, wat eendag die ongebore Jesus sou doop, binne-in haar beweeg. Is dit nie verstommend nie?
Die teoloog Matthew Poole het hieroor 'n opmerking gemaak: “Die beweging van die kind in die moeder se skoot ... is geen ongewone ding nie ... maar ongetwyfeld was hierdie beweging meer as gewoon.” Dis waarskynlik dat Elisabet vir Johannes voorheen al in haar baarmoeder voel skop of beweeg het, maar nie só nie, nog nie soos hierdie keer nie. Dit was baarmoeder-aanbidding; dit was soos Dawid in 2 Samuel 6:14 (NLV), wat “... met volle oorgawe voor die Here gedans [het] ...”, maar dit het in Elisabet se baarmoeder plaasgevind! Op daardie oomblik het sy dadelik deur die Heilige Gees die oorsaak van die hewige beweging herken. Sy het geweet sy was in die teenwoordigheid van die Here, die Seun van God; die Messias en Verlosser.
Dus het sy opgewonde uitgeroep: “Waaraan het ek dit te dankie dat die moeder van my Here na my toe kom?” (Lukas 1:43). Ek hou vreeslik baie van Die Boodskap se vertaling van hierdie vers (my beklemtoning): “Wie is ek dat jy, die moeder van die Here, hier na my toe kom?”
Elke keer wat ek hierdie gesprek lees, kry ek trane in my oë. Kan jy dink hoe Elisabet moes voel toe sy besef in wie se teenwoordigheid sy verkeer, toe die Heilige Gees aan haar openbaar: Dis Hy, Hy's hier; jou Verlosser en Here is hier in die skoot van jou niggie!? Dit herinner my aan Simeon wat met die aanskoue van Jesus, die eer gehad het om die pasgebore Messias in sy arms vas te hou en toe gesê het: “want ek het self die Redder gesien. U het Hom vir ons gestuur, en al die volke sal Hom sien” (Lukas 2:30–31 ABA).
Daar is 'n onbeskryflike vreugde wanneer ons die teenwoordigheid van Jesus ervaar. Daar is 'n volheid, 'n vrede, 'n opwinding wat maak dat ons in verheerliking en opregte, onbeskaamde lofprysing uitbars. Kettings word gebreek, die skille val van ons oë af, genesing vind plaas, die donker vlug en die vermoeides vind rus. Daar is niks soortgelyks in die hele wêreld nie! As gelowiges kry ons elke liewe dag die kans om hierdie werklikheid te beleef.
Ek bid dat elkeen van ons dit sal onthou; dat ons nooit die verwondering, ontsag en vreugde sal verloor om elke oomblik in die teenwoordigheid van die Here te leef deur die inwoning van die Heilige Gees in ons nie. Ek bid dat ons nooit sy teenwoordigheid as vanselfsprekend sal aanvaar nie en dat ons voortdurend, daagliks, vars met sy Gees vervul sal word.
Net soos Maria tydens haar swangerskap, dra ons die teenwoordigheid van God in ons, oral waar ons gaan. Ons dra die heerlike geskenk van God binne-in ons; 'n gawe wat ons almal met die wêreld om ons moet deel! Wat doen jy dus daarmee? Wat gebeur as jy by 'n vertrek instap? Hoe reageer mense wanneer hulle jou ontmoet, wanneer hulle jou stem hoor? Is die tasbare teenwoordigheid van die Here binne-in jou vir hulle duidelik? Skyn die lig van die wêreld deur jou lewe, of het jy dit bedek en weggesteek?
Vriende, terwyl Kersfees naderkom, 'n tyd wanneer feesliggies ons stede versier, bid ek dat dié van ons wat die teenwoordigheid van die Verlosser in ons dra, Christus se lig die helderste sal laat skyn, sodat "... die mense ook julle lig kan sien. Hulle moet sien julle lewe reg. Dan sal hulle ook julle Vader prys wat in die hemel is” (Matteus 5:16 ABA).
Aangaande hierdie leesplan
Oor die volgende 12 dae gaan ons deur die Kersfeesverhaal reis en nie net ontdek waarom dit die grootste verhaal van alle tye is nie, maar ook dat Kersfees waarlik vir almal bedoel is!
More