Noël: Kersfees Is Vir AlmalVoorbeeld

Noel: Christmas Is For Everyone

DAG 6 VAN 12

Nederige Begin

Deur Danny Saavedra 

"Die engel sê toe vir haar: 'Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou.Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee' ... Maria sê toe: 'Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het'" (Lukas 1:30-31; 38).

Onder al die groot fiksiehelde, is Frodo van The Lord of the Rings rolprente, een van die mees opvallende karakters. Hoekom? Want anders as Hercules, Wonder Woman, Thor, of Superman, is hy nie 'n groot, supermagtige halfgod nie. Anders as Anakin of Luke Skywalker, is hy nie met buitengewone kragte gebore nie. In teenstelling met Batman, is hy nie 'n hoogs-opgeleide ninja en ongelooflik ryk met die geld om gevorderde tegnologiese wapens en wapenrusting te maak nie. Frodo was geeneen van daardie dinge nie. Hy was net 'n eenvoudige "hobbit" van die Shire, 'n naïewe, vriendelike, sagte, klein outjie. Galadriel, in die The Fellowship of the Ring rolprent sê: "Selfs die kleinste persoon kan die verloop van die toekoms verander."  

Die saak staan so: wat Frodo uniek gemaak het, was nie sy bo-menslike vermoëns, hoë intelligensie of eersgeboortereg nie ... dit was sy bereidwilligheid om 'n tree in die geloof te neem. Hy is 'n held onder die helde, want hoewel hy geweet het hy was nie toegerus vir hierdie onmoontlike taak nie (hy het nie eens die pad na Mordor geken nie), het hy in nederigheid opgestaan en die roeping aanvaar toe dit gekom het. 

Hierdie miniatuur held beliggaam iets so diep Bybels: God kan enigiemand, selfs die mees nederige van mense, gebruik om die wonderlikste werk te bewerkstellig. Van die jong herderseuntjie wat 'n reus tot 'n val gebring het tot 'n weduwee wat ongelooflike lojaliteit aan haar skoonmoeder betoon het, tot die jong maagd uit Nasaret — vanwaar blykbaar niks goeds kan kom nie (Johannes 1:46) — en van wie Elisabet uitgeroep het: "... Geseënd is jy onder die vroue ..." (Lukas 1:42) — God doen graag groot dinge deur middel van die klein, nederige mense.

Hoekom dus Maria? Net soos Frodo, het sy niks gehad wat die mensdom as "spesiaal" beskou het nie. Sy was nie uit 'n invloedryke gesin nie. Die mense het haar nie as besonders gesien nie. Sy was egter hoogs-begunstig deur God. Toe Gabriël vir Maria vertel het dat sy deur die Heilige Gees 'n kind sou hê, het haar antwoord presies geopenbaar hoekom God haar gekies het en hoekom sy as hoogs-begunstig geag en met hierdie eer geseën is. 

In Lukas 1:38 sê sy: "... Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het." Kyk na die nederigheid wat sy hier openbaar het! Met hierdie waansinnige, onmoontlike, eintlik skrikwekkende nuus (sy was 'n verloofde, ongetroude maagd, waarskynlik tussen 12 en 14, toe sy gehoor het dat sy 'n kind sal hê), was haar antwoord: "Ek is tot beskikking van die Here." 

Sy het geweet dat niemand haar sou glo nie, dat dit waarskynlik 'n skandalige en gevaarlike ding sou wees (Josef kon haar in die openbaar tot skande maak of laat stenig omdat sy as sy verloofde swanger was, want hy was nie die biologiese vader nie), maar sy het God vertrou. Sy het in Hom en in sy woord geglo. Sy het haarself beskikbaar gestel om deur God gebruik te word om sy werk te doen. Sy het geweet sy is nie toegerus vir die roeping wat God aan haar gegee het nie, maar sy het haar lewe, wil en toekoms in sy hande oorgegee, omdat sy vertrou het dat Hy tree-vir-tree by haar sou wees.

Dit is al wat die Here van ons nodig het om wonders in ons eie lewens en die lewens van die mense om ons te bewerkstellig. Ons hoef nie hoogs-geskoolde, super-gekwalifiseerde genieë te wees nie. Hy gebruik beslis mense met ongelooflike vaardighede, talente, hulpbronne en vermoëns net soos Hy onopgeleide vissers, arm weduwees en uitgeworpenes gebruik, maar dit is nie vir Hom 'n voorvereiste om sy beste werk te kan doen nie. Inteendeel, God doen sy beste werk in die lewens van diegene wat nederig, beskikbaar en bereid is om gebruik te word. Dit gaan nie oor wat jy kan doen nie, maar wat jy Hom toelaat om in en deur jou te doen. Hy seën diegene wat verklaar: "Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het."  

Net soos Maria, het ons almal deel aan hierdie wonderlike verhaal van verlossing wat God skryf. Ons het almal 'n wonderlike roeping om dissipels te maak, die evangelie te verkondig en sy getuies te wees. Moet ons geleerdes of dinamiese sprekers wees om dit te bereik? Nee! Ons moet net sê: "Ek is tot beskikking van die Here."

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Noel: Christmas Is For Everyone

Oor die volgende 12 dae gaan ons deur die Kersfeesverhaal reis en nie net ontdek waarom dit die grootste verhaal van alle tye is nie, maar ook dat Kersfees waarlik vir almal bedoel is!

More

Baie dankie aan Calvary Chapel Ft. Lauderdale wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asb.: http://CalvaryFTL.org