Paul Tripp se Daaglikse DankseggingsoordenkingVoorbeeld

Paul Tripp's Daily Thanksgiving Devotional

DAG 12 VAN 12

Wat kom in jou gedagtes op wanneer jy oor gebed dink? Wanneer jy bid, wat is dit wat jy van God wil hê? Watter versoeke oorheers jou gebedslewe?

Opregte gebed vind plaas waar oorgawe en feesviering kruis. Gebed is baie meer as om net 'n wenslysie aan God te oorhandig en om Hom te laat verstaan dat jy dankbaar is vir sy bestaan en dat Hy die mag het om te verlos. Hierdie soort gebed maak jou die middelpunt, en in werklikheid maak dit van God die Goddelike kelner. Dit is nie Hom wat jy wil hê nie. Dit is nie sy wysheid wat jy nastreef nie. Dit is nie sy genade waarna jou hart smag nie. Wenslysie-gebede sê in wese: "Ek weet wat die beste vir my lewe is, en God, ek sal dit waardeer as U u mag sal gebruik om dit te laat gebeur."

Jy bid so wanneer jy vergeet dat God, as Skepper en Verlosser, oneindig meer weet oor wat jy eintlik nodig het, as wat jy weet. Meer nog as dit, laat hierdie soort gebed die hele lewe handel oor jóú behoeftes, jóú begeertes en jóú gevoelens. Dit is eintlik glad nie wat gebed is nie. In opregte gebed gee jy die seggenskap van jou lewe oor aan die groter en wyser planne en doelwitte van God. Jy onderwerp jou wil aan sy wil. Dit is nie God wat jou lysie onderteken nie, maar dit is jy wat jou lewe aan Hom oorgee.

Dan is gebed ook feesviering. In gebed is jy in verwondering oor wat dit beteken dat jy in werklikheid 'n hemelse Vader het. Jy vind vreugde in die realiteit dat Hy gekies het om sy koninkryk aan jou te gee. Jy is stomgeslaan deur die feit dat Hy sy almagtige krag vrygestel het om in jou behoeftes te voorsien. Jy vier vergifnis, redding, herskepping, bemagtiging en verlossende genade. Jy vind jou vreugde daarin dat jy ingesluit is in sy werk van verlossing. Jy vind hoop in die glorieryke toekoms wat wag. Jy is verstom oor die feit dat jy nooit, ooit alleen is nie, omdat Immanuel jou lewe met sy genade binnegedring het. Jy vind vrede in die feit dat genade beteken jy sal nooit aan jou eie onvoldoende bron van menslike wysheid, geregtigheid en krag oorgelaat word nie. Jy dink na oor God se glorie en goedheid, en dan vier jy fees. Jy verheug jou in die feit dat jy nie meer lewe in mense, situasies en plekke om jou nie hoef te soek, maar dat lewe aan jou gegee is — die ewige lewe.

Is versoeke aan God deel van opregte gebed? Absoluut! God moedig ons aan om ons sorge aan Hom oor te gee, want Hy gee regtig om vir ons. Maar die versoeke in opregte gebed word altyd gedoen in die konteks van oorgawe en feesviering. Dit is oorgawe en feesviering wat voorkom dat daardie versoeke selfsugtige eise of bitter klagtes word. Hierdie soort gebed is 'n instrument van God se genade in jou lewe. Wanneer jy God in die regte plek plaas en jou plek as sy kind vier, word gebed 'n instrument wat God gebruik om jou vry te maak van slawerny. Dís genade!

Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Paul Tripp's Daily Thanksgiving Devotional

Danksegging is 'n tyd wanneer ons al die goeie dinge onthou wat God uit genade vir ons gegee het. Soms verhoed die dolle gejaag van hierdie tyd van die jaar dat ons tyd inruim om God te dank vir al sy baie geskenke. Hierdie bemoedigende oordenkings van Paul David Tripp, wat elkeen slegs vyf minute neem om te lees, sal jou aanmoedig om God se genade heeldag lank te oordink.

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/books/new-morning-mercies-hcj/