Paul Tripp se Daaglikse DankseggingsoordenkingVoorbeeld

Paul Tripp's Daily Thanksgiving Devotional

DAG 7 VAN 12

Dink gou vir 'n oomblik saam met my. Leef jy 'n lewe van seën of van klagtes? Dit is so maklik om te mor en kla. Dit is so maklik om fout te vind. Dit is so maklik om ontevrede te wees. Dit is so maklik om dinge te vind wat minder is as wat jy sou wou hê. Dit is so maklik om geïrriteerd en ongeduldig te raak. Dit is so maklik om te kerm en kla oor al die swaarkry van die lewe. Dit is so maklik om onvergenoegd te wees.

Hoekom is al hierdie dinge so maklik? Wel, dit is omdat sonde veroorsaak dat alles nog steeds net oor onsself gaan. Omdat sonde regtig van nature selfsugtig is, is ons almal steeds geneig om ons wêreld in te perk tot die basiese grense van ons begeertes, behoeftes en gevoelens. Ons is geneig om die goeie dinge in ons lewens te beoordeel aan hoeveel van die dinge wat ons graag wil hê, ons in werklikheid besit. Basies is dit 'n versoeking om 'n God-vergete, ek-gesentreerde bestaan te leef. As jy jouself in die middel van jou eie wêreld plaas, sal jy baie dinge kan vind om oor te kla.

Dit is ook waar dat ons in 'n gebroke wêreld lewe, waar mense en dinge nie funksioneer soos wat God dit bedoel het nie. Hierdie wêreld is regtig vreeslik gebroke. Die lewe hier op aarde is waarlik baie swaar. Ons staar allerhande moeilikhede in die gesig; klein en groot. Mense stel ons teleur. Hulle maak jou lewe moeilik. Struikelblokke kom oor jou pad. Op een of ander manier stap jou gebroke wêreld elke dag by die deur van jou lewe in. Kombineer die lewe se swaarkry in hierdie gebroke wêreld met die selfgesentreerdheid van sonde, en jy het 'n resep vir 'n ramp, of ten minste vir 'n jammerlike lewe van ontevredenheid.

Die Bybel beskou nie mor en kla as iets kleins nie. In Deuteronomium 1 onthou Moses hoe die mense van Israel (gemurmereer) en gekla het oor hulle lewens en in daardie gemor en kla was die goedheid en wysheid van God bevraagteken. Die afleiding wat God van hulle klagtes gemaak het, was dat die mense teen Hom rebelleer; hulle het gewys dat hulle nie gewillig was om te doen waartoe Hy hulle geroep en in staat gestel het om te doen nie. Die vreugde (of klagtes) van jou hart, wys altyd hoe gewillig jy is om God te vertrou en sy wil te doen.

Klagtes laat ons vergeet van God se genade. Dit ignoreer sy teenwoordigheid. Dit sien nie die skoonheid van sy beloftes nie. Dit laat toe dat die vertoon van God se prag in die skepping ongesiens verbygaan. Dit bevraagteken sy goedheid, getrouheid en liefde. Dit wonder of Hy regtig daar is en of Hy omgee. As jy in God glo en dat Hy in beheer is van alles wat bestaan, moet jy aanvaar dat al jou gekla uiteindelik klagtes teen Hom is. Ja, dit is tog so maklik om te kla. Dit is so maklik om te vergeet van die daaglikse seëninge wat oor ons uitgestort word. Jesus het, sonder om te kla, gewillig gesterf om vir ons vergifnis en reddende genade te gee, al is ons altyd tog so gereed om oor alles te kla.

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Paul Tripp's Daily Thanksgiving Devotional

Danksegging is 'n tyd wanneer ons al die goeie dinge onthou wat God uit genade vir ons gegee het. Soms verhoed die dolle gejaag van hierdie tyd van die jaar dat ons tyd inruim om God te dank vir al sy baie geskenke. Hierdie bemoedigende oordenkings van Paul David Tripp, wat elkeen slegs vyf minute neem om te lees, sal jou aanmoedig om God se genade heeldag lank te oordink.

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/books/new-morning-mercies-hcj/