Paul Tripp se Daaglikse DankseggingsoordenkingVoorbeeld
Is dit regtig waar dat een van die grootste sondes in ons verhoudings, die sonde van vergeetagtigheid is? Dink na oor die volgende gelykenis van Jesus:
"Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met 'n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het. Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy, sy vrou, sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word. Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’ Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf. Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net 'n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’ Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’ Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het.Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle diep teleurgesteld, en hulle het alles wat gebeur het, vir hulle koning gaan vertel. Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’" (Matteus 18:23-33).
Ons is almal so vergeetagtig. Ons kan almal vergeet van die wonderlike liefde en genade wat in oorvloed aan ons betoon is. Ons kan almal vergeet dat ons nooit die beste dinge in ons lewens kan verdien nie; dit is slegs aan ons geskenk uit genade. Dit is die probleem: in dieselfde mate waarmee jy die genade wat aan jou geskenk is, kan vergeet, net so maklik is dit vir jou om nie genade aan ander te bewys nie. Net so maklik as wat jy vergeet waarvoor jy alles vergewe is, net so maklik is dit vir jou om ander mense in jou lewe nie te vergewe nie. As jy nie daarin kan slaag om 'n hart van dankbaarheid in jou rond te dra vir die liefde wat so vrylik aan jou gegee is nie, sal jy ook sukkel om ander so lief te hê soos jy regtig moet.
Dit is en sal altyd waar wees dat niemand genade beter kan betoon as 'n persoon wat innig daarvan oortuig is dat hy dit self nodig het nie; en dat dit mildelik deur 'n God van genade aan ons gegee is. Hy gee ons wat ons nooit sou kon verdien nie; hoekom weier ons dan om genade te betoon aan ander voordat hulle nie voldoen aan die standaard wat ons vir hulle stel nie? Die oproep om onmiddellik te vergeef, ontbloot ons behoefte aan vergifnis. Die oproep om genade te betoon, openbaar juis hoeveel genade ons nodig het. Die oproep om te vergeef, is terselfdertyd 'n oproep om te onthou om dankbaar te wees. Wanneer jy onthou hoeveel jy te kort skiet, sal jy al hoe meer sagmoedigheid betoon teenoor ander wat dit kortkom, en jy sal vir ander dieselfde genade wil hê as waarop jy vir jouself gehoop het. Mag God ons die genade gee om te onthou om gewillig te wees om aan ander te betoon wat aan ons betoon is.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Danksegging is 'n tyd wanneer ons al die goeie dinge onthou wat God uit genade vir ons gegee het. Soms verhoed die dolle gejaag van hierdie tyd van die jaar dat ons tyd inruim om God te dank vir al sy baie geskenke. Hierdie bemoedigende oordenkings van Paul David Tripp, wat elkeen slegs vyf minute neem om te lees, sal jou aanmoedig om God se genade heeldag lank te oordink.
More