Paul Tripp se Daaglikse DankseggingsoordenkingVoorbeeld

Paul Tripp's Daily Thanksgiving Devotional

DAG 9 VAN 12

Terwyl ek die karaktertrekke van ware liefde (egtheid, nederigheid, vreugde en volharding) neerskryf, is my hart gevul met 'n hartseer oortuiging. Ek het gedink: "my liefde slaag dikwels nie daarin om eg te wees nie." Nee, hier bedoel ek nie eg soos in teenstelling met vals nie. Ek dink ook nie hier aan iets skynheilig soos die "ek gaan voorgee dat ek jou liefhet, al het ek nie" soort liefde nie. Die woord "eg" beteken hier "reguit", soos die soort pyl wat 'n boogskutter uit sy koker trek. Hy wil 'n pyl hê wat heeltemal reguit is, wat sodra dit uit die boog geskiet word, in die regte rigting sal trek. Hier beteken eg om meer bestendig en betroubaar te wees en om nie in een of ander liefdelose rigting te gaan nie. Ongelukkig is daar steeds wispelturigheid in my liefde. Wanneer iemand van my verskil, wanneer iemand my planne deurmekaar krap, wanneer ek onverwags genoodsaak word om te wag, of wanneer iemand anders iets kry wat ek eintlik gedink het mý toekom, is ek in die versoeking om op 'n minder liefdevolle manier te reageer.

Die tweede karaktertrek, nederigheid, verklaar hoekom ek so reageer. Dit ontbreek my aan nederigheid. Ek is steeds geneig om te dink dat die lewe om mý planne, mý gevoelens, mý begeertes en my eie verwagtings draai. Ek kom steeds in die versoeking om 'n "goeie" dag te meet aan die maatstaf of ék daarmee tevrede was, in plaas daarvan om die dag se sukses daaraan te meet of ek God behaag het deur liefdevol teenoor ander te wees. Ek kom steeds in die versoeking om te lewe asof ek my lewe besit en vergeet dat ek teen 'n prys gekoop is. Al hierdie dinge veroorsaak dat die liefde 'n las is, eerder as om vol vreugde te wees. Dit is regtig waar dat, wanneer jy vir jouself leef, die opdrag om ander lief te hê, 'n las word.

Die laaste karaktertrek verwys ons na die hoogste en moeilikste standaard van liefde: volharding. Ontroue liefde het min waarde. Liefde wat verander, is nie regtig liefde nie. Dit is wispelturig en doen meer skade as goed. Dis hoekom God se getroue, ewige liefde so 'n groot en motiverende vertroosting is.

Die vraag is dan: "Waar in die wêreld sal ek hierdie soort liefde kan kry?" Wel, jy sal dit nooit kry deur op te staan en jouself wys te maak dat jy voortaan beter gaan optree nie. As jy die krag van hierdie soort selfmotivering gehad het, sou die kruis van Jesus Christus nie nodig wees nie. Die enigste manier hoe ek uit die kettings van selfgesentreerdheid kan ontsnap en begin om ander lief te hê, is wanneer vergewende, bevrydende, bemagtigende en ewigdurende liefde binne-in my posvat. Hoe meer dankbaar ek oor daardie liefde is, hoe meer vind ek vreugde daarin om dit aan ander te gee. God se liefde, wat Hy vrywillig gee, gee vir my die enigste hoop dat ek liefde in my hart kan hê wat ek ook met vreugde kan deel.

Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Paul Tripp's Daily Thanksgiving Devotional

Danksegging is 'n tyd wanneer ons al die goeie dinge onthou wat God uit genade vir ons gegee het. Soms verhoed die dolle gejaag van hierdie tyd van die jaar dat ons tyd inruim om God te dank vir al sy baie geskenke. Hierdie bemoedigende oordenkings van Paul David Tripp, wat elkeen slegs vyf minute neem om te lees, sal jou aanmoedig om God se genade heeldag lank te oordink.

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/books/new-morning-mercies-hcj/