Paul Tripp se Daaglikse DankseggingsoordenkingVoorbeeld
Daar is heeltemal niks wat jy kan doen om God se guns te wen nie. Jy moet hierdie feit bloot net aanvaar en onthou. Jy sal nooit lank genoeg vroom genoeg wees om God se heilige verwagting tevrede te kan stel nie. Jou gedagtes sal nooit suiwer genoeg wees nie. Jou begeertes sal nooit heilig genoeg wees nie. Jou woorde sal nooit rein genoeg wees nie. Jou keuses en aksies sal God nooit genoeg kan eerbiedig nie. Die standaard is te hoog vir jou en my om dit ooit te kan bereik. Daar is geen uitsonderings nie. Ons almal lewe onder dieselfde las van die wet en dieselfde onvermoë van sonde. Ons is almal beter rebelle as onderdane. Ons is almal van nature meer trots as nederig. Ons is almal meer geneig tot afgodery as om God te aanbid. Ons maak makliker rusie met ons bure as om hulle lief te hê. Ons vind jaloesie meer natuurlik as tevredenheid. Op een of ander manier is ons almal rowers. Ons is almal afgunstig op ander se besittings. Van nature verbuig ons meer die waarheid as wat ons dit beskerm. Ons veroordeel ander met ons woorde eerder as om genade aan hulle te betoon. Ons bewys elke dag dat ons nooit onafhanklik God se standaard sal kan bereik nie.
Hier is jou "dit-sê-nou-alles" verklaring: "Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie" (Romeine 3:20). En hoekom is dit waar? Want "Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie." (Romeine 3:23). Die bewoording is omvattend. Dit laat geen ruimte vir enige uitsonderings nie. Dit is die verpletterende nuus wat alle mense in hulle harte moet aanvaar en moet deel maak van hul begrip van identiteit. Hierdie nuus is egter nie die weg na selfveragting nie, maar na ewigdurende hoop en vreugde. Dit is slegs wanneer jy aanvaar wie jy is en waartoe jy nie self in staat is nie, dat jy begin verstaan hoe nodig jy God se geskenk het. Kom ons sit die goeie en die slegte nuus saam soos Paulus in Romeine 3 doen. Hy skryf: "Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie," maar dit is nie die einde van die storie nie. Hy gaan voort deur te sê: "maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo" (Romeine 3:23-25).
Versoening is 'n offer. Jesus se offer het God se toorn laat bedaar en versoening gebring tussen God en almal wat geloof in Hom het. Omdat God sonde haat, was die enigste manier hoe ons as sondaars 'n verhouding met Hom kon hê, as Christus sy lewe sou gee om die boete vir ons sondes te betaal. Dis nie nodig om gehoorsaam te wees om God se guns te wen nie. Christus het God se guns namens ons verkry. Jou gehoorsaamheid is nooit 'n betaling wat uit vrees gedoen word nie, maar 'n loflied van dankbaarheid tot God, want Hy het jou ontmoet waar jy was en vir jou gedoen wat jy nie vir jouself kon doen nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Danksegging is 'n tyd wanneer ons al die goeie dinge onthou wat God uit genade vir ons gegee het. Soms verhoed die dolle gejaag van hierdie tyd van die jaar dat ons tyd inruim om God te dank vir al sy baie geskenke. Hierdie bemoedigende oordenkings van Paul David Tripp, wat elkeen slegs vyf minute neem om te lees, sal jou aanmoedig om God se genade heeldag lank te oordink.
More