Paul Tripp se Daaglikse DankseggingsoordenkingVoorbeeld

Paul Tripp's Daily Thanksgiving Devotional

DAG 8 VAN 12

Dis nog een van daardie dinge wat ons almal geneig is om te doen. Ons is almal geneig om op al die verkeerde plekke na lewe te soek. Ons is almal geneig om horisontaal na lewe te soek, wanneer ons dit in werklikheid net vertikaal sal kan vind. Op een of ander manier is ons almal geneig om te dink dat die wêreld om ons vir ons lewe kan gee. Ons dra almal ons persoonlike lysie van "wat as" met ons saam. "As ek maar eers getroud is, sal ek gelukkig wees." "As ek net daardie werk kan losslaan, sal ek tevrede wees." "As ons maar net daardie huis kan koop, sal ek vir niks anders vra nie." "As my huwelik net beter was, sal ek beter wees." "As my kinders net suksesvol is, sal ek tevrede wees." "As ek maar net _____ kon bereik, sal ek niks meer wou hê nie." "As ons finansies maar net meer stabiel was, sal ek nie meer kla nie."

Wat ook al aan die ander kant van jou "wat as" is, is waarna jy vir lewe, vrede, vreugde, hoop, en laastens 'n geruste hart soek. Die probleem is dat jy aanhou geld spandeer op dinge wat jou nie sal vervul nie en dat jy te hard werk om te bekom wat jou nooit sal bevredig nie. Dit is 'n groot, rampspoedige, geestelike deurmekaarspul en jy bly vet, verslaaf, in die skuld en het nog steeds 'n ontevrede hart. Hoekom? Want die wêreld sal nooit jou redder kan wees nie. Hierdie fisieke wêreld met al sy besienswaardighede, geluide, plekke, ervarings en verhoudings, het glad nie die vermoë om jou hart tevrede te stel nie. Hierdie fisieke wêreld is deur God ontwerp om een groot vinger te wees, wat heenwys na die enigste plek waar jou hart rus en vrede sal vind. Jou hart sal slegs rus wanneer dit alleen in God rus vind.

Jesus sê: "Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle 'n beurs aan wat nie leeg raak nie, 'n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie" (Lukas 12:33). Waaraan sal jy vandag jou hart vasmaak in die hoop dat dit jou lewe sal gee? Waar sal jy gaan soek na rus en vrede vir jou hart? Waarna sal jy uitreik om jouself hoop, moed en 'n rede te gee om aan te gaan? Waar sal jy in die skepping kan probeer soek na iets wat slegs die Skepper jou kan gee? Watter brood sal jy vandag koop, wat nooit jou geestelike honger sal kan stil nie?

Hoekom sal jy angstig na die skepping kyk om iets vir jou te gee wat jy alreeds in Christus ontvang het? Hoekom sal jy hierdie gebroke wêreld vra om jou redder te wees, as Jesus as jou Verlosser gekom het om jou alles wat jy nodig het deur genade te gee?

Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

Paul Tripp's Daily Thanksgiving Devotional

Danksegging is 'n tyd wanneer ons al die goeie dinge onthou wat God uit genade vir ons gegee het. Soms verhoed die dolle gejaag van hierdie tyd van die jaar dat ons tyd inruim om God te dank vir al sy baie geskenke. Hierdie bemoedigende oordenkings van Paul David Tripp, wat elkeen slegs vyf minute neem om te lees, sal jou aanmoedig om God se genade heeldag lank te oordink.

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/books/new-morning-mercies-hcj/