Paul Tripp se Daaglikse DankseggingsoordenkingVoorbeeld

Paul Tripp's Daily Thanksgiving Devotional

DAG 5 VAN 12

Dit is 'n besprekingspunt in teologiese kringe, maar ons leef nie eintlik asof ons dit glo nie. Ons sê almal ons glo dat dit nie al is wat daar is nie. Ons sê dat ons regtig glo daar is lewe nadat hierdie een eindig. Ons formele teologie bevat die feit van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde wat kom. Ons is egter geneig om met 'n angs en dringendheid te leef asof ons glo dat ons net hierdie oomblik het.

Die werklike kwessie op voetsoolvlak is: as jy nie jou hart toespits op die toekomstige paradys nie, sal jy probeer om hierdie arm, gevalle wêreld in die paradys te omskep — wat dit nooit sal wees nie. In die hart van elke lewende persoon is die verlange na die paradys. Die huil van 'n kleuter wat pas geval het, is 'n uitroep na die paradys. Die trane van die skoolgaande kind wat op die speelgrond verwerp is, is trane van een wat na die paradys uitreik. Die pyn van alleenheid wat iemand sonder vriende of familie ervaar, is die pyn van een wat na die paradys verlang. Die seer wat die egpaar voel as hul huwelik ontbind, is die seer van diegene wat na die paradys uitroep. Die hartseer wat die ou man voel namate sy liggaam verswak, is die hartseer van iemand wat na die paradys verlang. Ons het almal hierdie verlange, selfs as ons nie daarvan bewus is nie, omdat dit deur ons Skepper daar geplaas is. Hy het die ewigheid in elkeen van ons harte geplaas (Prediker 3:11). Ons gehuil is meer as gehuil van pyn; dit is ook uitroepe van verlange na meer en beter as wat ons ooit in hierdie gevalle wêreld sal ervaar.

As jy dít vergeet, werk jy baie hard om hierdie oomblik te probeer omskep in die paradys wat dit nooit sal wees nie. Jou huwelik sal nie 'n paradys wees nie. Jou werk sal nie die paradys wees waarna jy verlang nie. Jou vriendskappe sal nie die paradys wees wat jou hart begeer nie. Die wêreld om jou sal nie soos 'n paradys funksioneer nie. Jou kinders sal nie 'n paradys aan jou lewer nie. Selfs jou kerk sal nie by die standaard van die paradys kom nie. As jy 'n kind van God is, is die paradys vir jou gewaarborg, maar dit sal nie nou hier wees nie. Alles wat jou nou teleurstel, is om jou daaraan te herinner dat dit nie al is wat daar is nie; en om jou te laat verlang na die paradys wat gaan kom. Die drome wat sterf, herinner jou daaraan dat dit nie 'n paradys is nie. Die blomme wat verlep, sal jou herinner dat dit nie 'n paradys is nie. Die sonde wat jou bind, moet jou daaraan herinner dat dit nie 'n paradys is nie. Die siektes wat jou infekteer, moet jou daaraan herinner dat dit nie 'n paradys is nie. Leef in hoop omdat die paradys sekerlik sal aanbreek, en hou op om hierdie gevalle wêreld te vra om die paradys te wees wat dit nooit sal wees nie.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Paul Tripp's Daily Thanksgiving Devotional

Danksegging is 'n tyd wanneer ons al die goeie dinge onthou wat God uit genade vir ons gegee het. Soms verhoed die dolle gejaag van hierdie tyd van die jaar dat ons tyd inruim om God te dank vir al sy baie geskenke. Hierdie bemoedigende oordenkings van Paul David Tripp, wat elkeen slegs vyf minute neem om te lees, sal jou aanmoedig om God se genade heeldag lank te oordink.

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/books/new-morning-mercies-hcj/