Kersfees Bemoediging deur Greg LaurieVoorbeeld
Die Nag wat Tyd vir Ewig Verdeel het
Kersfees is gekaap. Ek praat nou nie net oor die nie-godsdienstiges wat die frase "Geseënde Kersfees" met "Lekker vakansie" wil vervang nie. Kersfees is gevange geneem en effektief geplunder. Dis asof ons kultuur die woord Kersfees van sy betekenis ontneem het, dit deur die modder gesleep en aan ons teruggegee het sonder die krag daarvan. Die probleem is nie net die nie-godsdienstiges nie. Selfs welmenende Christene het dit óf geromantiseer óf dit so sentimenteel gemaak dat hulle die ware verhaal misloop.
Wanneer ons oor Kersfees dink, sien ons 'n sentimentele toneeltjie in die stal. Baba Jesus is daar, ook Josef en Maria. Hulle het elkeen natuurlik hulle eie stralekrans. Dan is daar die skaapwagters wat toekyk. Die wyse manne is ook daar, gewoonlik in helderkleurige uitrustings.
In werklikheid het niemand stralekranse gehad nie. Die wyse manne het nie vir Jesus besoek terwyl Hy in die krip gelê het nie. Die Evangelie van Matteus sê dat hulle eers ongeveer twee jaar later daar aangekom het. Die Bybel sê ook nie hoeveel wyse manne daar was nie; dit praat net van drie geskenke wat gebring is.
Dan is daar ook die romantiese prentjies van Kersfees met sneeubedekte landskappe, sleë wat deur takbokke gesleep word, toegewasemde vensters en rooi kerse. Dalk mis ons die ware boodskap en die ware prag.
Kom ons verwyder die lae van tradisies. Kom ons verwyder die dinge wat verhinder dat ons die geboorte van Jesus sien vir wat dit werklik was. Om dit te verstaan, verminder nie die impak nie; dit versterk in werklikheid die krag daarvan. Bo alles was dit tog die nag toe tyd vir ewig verdeel is; die nag toe God self aarde toe gekom het. Dit was die nag toe God uit die hemel die geskiedenis binnegekom het.
Ter opsomming: Het jy enige tradisies wat verwyder moet word, sodat jy die ware betekenis van Kersfees kan sien?
Kopiereg © 2013 deur Harvest Ministries. Alle regte voorbehou.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Moenie toelaat dat die bedrywighede van die vakansietyd in Desember jou ontneem van die vreugde en ware viering van Jesus, ons Verlosser, nie. Ontvang daaglikse bemoediging van pastoor Greg Laurie se spesiale Kersfeesoordenkings, waar hy die ware betekenis van die mees gevierde tyd van die jaar oordink. "Harvest Ministries" met Greg Laurie.
More