Kersfees Bemoediging deur Greg LaurieVoorbeeld
'n Heilige Lewe in 'n Onheilige Plek
"Die engel sê toe vir haar: 'Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou'" (Lukas 1:30).
Indien Jesus vandag gebore sou word, van watter stad af dink jy sou Hy kom? Jy dink dalk aan Jerusalem, Rome, Londen, Parys of New York. Ons sou nie verwag dat Jesus van Putsonderwater of Babsfontein kom nie. Of wat van hierdie een? Jesus van Sun City. Dit het 'n negatiewe betekenis, nie waar nie?
Toe mense in die tyd van Jesus Hom as "Jesus van Nasaret" aangespreek het, is dit hoe hulle Hom gesien het. Daar was 'n negatiewe assosiasie aan verbonde. Tog het 'n godvresende jong vrou, genaamd Maria, in daardie goddelose plek gewoon; wat bewys het dat jy 'n heilige lewe in 'n onheilige plek kan lei.
In sy tweede sendbrief beskryf Petrus die gevolg wat die wêreld op twee gelowiges gehad het. Albei het in sondige samelewings geleef, die een was vooruitstrewend en die ander een nie.
Eerstens is daar Noag. Dinge het so sleg gegaan toe hy gelewe het, dat God jammer was dat Hy die mens gemaak het en gereed was om die wêreld te oordeel. Tog is Noag te midde van hierdie donker era, "deur die Here begenadig" (Genesis 6:8), want hy het met God gewandel. Hy was 'n Goddelike man wat in 'n ongoddelike plek gewoon het, maar nooit onder die druk geswig het nie.
Dan was daar Lot, wat in Sodom en Gomorra gewoon het. In teenstelling met Noag, was Lot afgestomp. Hy het nie saamgestem met wat die mense gedoen het nie, maar het ook niks gedoen om dit te verander nie. Die Bybel sê dat hy saam met hulle gewoon het en sy siel elke dag ontstig was wanneer hy sien en hoor watter onwettige en slegte dinge hulle doen. Tog het sy lewe van toegewings getuig. Toe die engel van die Here kom om hom uit Sodom te verlos, het hy die stad teensinnig verlaat.
Met watter een van hierdie twee mense kan jy jou vereenselwig: Noag of Lot? Of anders gestel: is jy besig om jou samelewing te verander of is die samelewing besig om jou te verander?
Ter opsomming: Leef jy 'n heilige lewe in 'n onheilige plek?
Kopiereg © 2011 deur Harvest Ministries. Alle regte voorbehou.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Moenie toelaat dat die bedrywighede van die vakansietyd in Desember jou ontneem van die vreugde en ware viering van Jesus, ons Verlosser, nie. Ontvang daaglikse bemoediging van pastoor Greg Laurie se spesiale Kersfeesoordenkings, waar hy die ware betekenis van die mees gevierde tyd van die jaar oordink. "Harvest Ministries" met Greg Laurie.
More