Kersfees Bemoediging deur Greg LaurieVoorbeeld
Wat Ek vir Kersfees Wil Hê
Ek het nog altyd in die belofte van Kersfees geglo. Daar was nog altyd, vanaf my vroegste kinderjare, vir my iets spesiaals aan hierdie tyd van die jaar.
Wat is dit van Kersfees waarvan ons so baie hou, dis nou te sê as ons verby die afleidings kyk?
Ek dink dit is die wonder, prag en afwagting. Dis die musiek, die verrassing op 'n kind se gesig en die heerlike kos. Dis die kameraadskap van familie en goeie vriende. Dis ook die afwesigheid van struwelinge en wreedheid (dis nou te sê, met die uitsondering van "Swart Vrydag").
Hoe dikwels gee Kersfees egter wat dit belowe? 'n Klein bietjie hier-en-daar, maar grotendeels is dit net 'n oneindige string advertensies op TV. Dis die wrywing en druk wat veroorsaak word deur 'n verpligting om geskenke te koop vir mense wat ons skaars ken. Dis die verwagting van ander en soms ook van onsself.
Dan kom die ontnugtering na Kersfees — verwagtinge wat nooit vervul kan word nie. Ons kon nie gee wat ons regtig wou gee nie, of wat hulle wou gehad het nie. Of jyself het nie gekry waarvoor jy gehoop het nie. Daarna kom al die rekeninge wat betaal moet word ...
Dus, hoe lyk Kerstyd op sy slegste? Dis 'n kras, kommersiële, leë, uitputtende en baie duur ritueel wat vir maande lank aanhou.
Hoe lyk Kerstyd op sy beste? Dis 'n kykie na wat kom — die prag, die aanbiddingsmusiek, die engele wat aanbid, die liefde, die geborgenheid, die belofte, die hoop … al die dinge wat vir ons in 'n toekomstige lewe belowe word.
Jy sien, Kersfees is 'n belofte. Dis 'n belofte wat nog nie ten volle vervul is nie.
Kersfees kan nie alles wees wat ons wil hê dit moet wees nie. Dis maar net 'n vakansiedag. Kersfees kan nie eensgesindheid in jou gesin bring nie. Kersfees kan nie vrede vir die wêreld bring nie. Kersfees kan nie geluk bring nie.
Christus kan egter self al hierdie dinge doen, en nog meer. Dis waarna ons eintlik diep hierbinne verlang.
• Nie na Kersfees nie, maar na Christus.
• Nie na vrolikheid nie, maar na die Messias.
• Nie na welwillendheid nie, maar na God.
• Nie na geskenke nie, maar na sy teenwoordigheid.
Enigiets of iemand anders sal jou net teleurstel. God sal jou nooit teleurstel nie.
Dis wat ek vir Kersfees wil hê — Jesus Christus.
Kopiereg © 2011 deur Harvest Ministries Alle regte voorbehou.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Moenie toelaat dat die bedrywighede van die vakansietyd in Desember jou ontneem van die vreugde en ware viering van Jesus, ons Verlosser, nie. Ontvang daaglikse bemoediging van pastoor Greg Laurie se spesiale Kersfeesoordenkings, waar hy die ware betekenis van die mees gevierde tyd van die jaar oordink. "Harvest Ministries" met Greg Laurie.
More