Vrees en Angs - Leer om te Oorwin met God se WaarheidVoorbeeld
Lees: Lukas 8:22-25, Markus 4:40
SOAP: Lukas 8:22
Vrees kan gedefinieer word as die ongewenste emosie wat veroorsaak word deur die oortuiging dat iemand of iets gevaarlik is. Angs is die liggaam se reaksie op 'n waargenome bedreiging. Ongelukkig ervaar ons almal vrees en angs omdat ons net mense is.
Daar is talle voorbeelde in die Skrif van mense wat gesukkel het met vrees: Abraham en Sarah, Moses, Dawid, Jona, Ester ... om net 'n paar te noem. Selfs die dissipels het met vrees geworstel, en dit terwyl Jesus by hulle was!
In Lukas 8 sien ons hoe vrees die dissipels se gebrek aan geloof toon. Verskeie dissipels was seevaarders, maar toe daar 'n groot storm op die meer opgekom het, het vrees die volgelinge van Jesus oorweldig. Terwyl Jesus rustig deur die storm geslaap het, het die dissipels Hom paniekbevange wakker geskud. Hulle het Jesus hul Meester genoem, tog kon hulle nie hulle lot in sy hande oorgee nie. Jesus het sy gesag oor die wind en die golwe bewys deur die storm stil te maak.
As jy jou eie lewe in oënskou neem, waarin plaas jy jou geloof? Rus jy in Christus, wetende dat Hy gesag het oor jou lewe of probeer jy om self water te trap? Jesus begeer dat ons ons vrese aan die voet van die kruis sal plaas sodat ons met vertroue en in vrede kan lewe.
Hemelse Vader, dankie dat ek veilig in U kan rus. Ek prys U vir u gesag oor my lewe. Ek bid dat U my sal help om u krag duideliker te sien. Vergewe my vir die tye wanneer my geloof swak is. Help my in my ongeloof en gee dat ek in moeilike tye mag fokus op wie U is. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Voel die lewe somtyds oorweldigend? Soek jy verligting van die vrees en angs? Ons gaan ontdek wat God in sy Woord sê oor vrees en angs. Ons sal leer hoe ons dit kan oorwin deur die krag van sy Woord. Deur na God te kyk om hulp, sal ons vryheid en vrede vind. Met God aan ons sy en sy Woord in ons harte en gedagtes, sal ons oorwin!
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://lovegodgreatly.com |