Vrees en Angs - Leer om te Oorwin met God se WaarheidVoorbeeld
Lees: Efesiërs 6:10-18, Psalms 119:105
SOAP: Efesiërs 6:11-12
Hierdie wêreld is ons slagveld. Maar ons is goed toegerus om enige versoekings en beproewings wat oor ons pad kom, teen te staan. God het ons deur sy Woord en sy Gees voorberei om teen ons vyand op te staan. Wanneer ons voel asof ons wil terugdeins, moet ons eerder die wapenrusting wat God ons gegee het, aantrek, sodat ons ferm kan bly staan.
Paulus gebruik militêre wapenrusting om die beginsels van ons geloof te illustreer. 'n Soldaat se gordel was die belangrikste van sy uitrusting. Die fondament van ons geloof is die waarheid van die evangelie. Ons moet alle ander dinge op daardie waarheid bou. Die borsharnas van vryspraak is die beskermer vir ons harte. Deur te leef volgens God se standaarde, sal ons onsself teen versoeking beskerm. Ons moet voorbereid en standvastig wees in die boodskap van Christus wat vrede bring. Dan, wanneer aanvalle kom, sal ons in staat wees om ferm in ons geloof te bly staan.
Ons skild in tye van aanvalle is ons geloof. Paulus herinner ons hoe kragtig ons geloof is. In antieke gevegte het 'n soldaat met selfvertroue geveg omdat hy 'n helm dra wat sy kop beskerm. Ons sekuriteit en vertroue lê in die wete dat ons verlos is. God het belowe om ons gevegte vir ons en saam met ons te veg.
Die enigste aanvallende wapen vir ons gevegte is die Woord van God. Ons moet nie die krag van Jesus se Naam vergeet nie. Dit is nie net 'n manier om 'n gebed te eindig nie, maar eerder hoe ons smeek vir ingryping van die almagtige Here.
Die Here voorsien ons van die wapenrusting, maar dit is ons taak om dit aan te trek en elke stuk te gebruik. Watter deel van die wapenrusting moet jy meer ten volle gebruik terwyl jy op die oomblik veg?
Vader God, dankie dat U my toerus met alles wat ek nodig het om meer as 'n oorwinnaar te wees. Help my om te onthou dat U al is wat ek nodig het. Leer my om op U staat te maak, in plaas van my eie krag. Dankie vir u beskerming en u verlossing. Hou aan om my geloof te bou terwyl ek leer om U meer te vertrou. In die Naam van Jesus. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Voel die lewe somtyds oorweldigend? Soek jy verligting van die vrees en angs? Ons gaan ontdek wat God in sy Woord sê oor vrees en angs. Ons sal leer hoe ons dit kan oorwin deur die krag van sy Woord. Deur na God te kyk om hulp, sal ons vryheid en vrede vind. Met God aan ons sy en sy Woord in ons harte en gedagtes, sal ons oorwin!
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://lovegodgreatly.com |