Vas soos DaniëlVoorbeeld
God Bly Altyd God
Ek glo jy het al die verhaal van Jona gehoor — hoe hy van God af weggehardloop het, deur 'n groot vis ingesluk is, drie nagte in die vis se maag deurgebring het en toe vir die heidene gaan preek het om hulle te bekeer.
Het jy egter opgemerk waarom Jona nie Nineve toe wou gaan nie? Dit was omdat hy hulle gehaat het en wou sien dat hulle vergaan. Dis reg — hierdie Godsman, 'n profeet wat God se woorde aan die mense oorgedra het, wou nie gehoorsaam wees nie, omdat God hulle dalk genadig sou wees.
Ek weet nie hoe jy voel nie, maar as ek die een is wat genade en guns nodig het, wil ek definitief God se genade ervaar al verdien ek dit nie. En tog, as iemand teen my sondig, wil ek eintlik hê dat God hulle sal straf! Is dit reg? Klink dit nie regverdig nie — wanneer Christene mishandel word, is ons almagtige God veronderstel om kwaad te word en hulle met 'n weerligstraal dood te slaan, of hoe?
Dis wat Jona wou hê, en dis wat ons dalk ook wil hê, maar dis NIE wat God wil hê nie. God hou daarvan om die deur van gebed oop te hou vir "miskien"-gebede: geleenthede vir Hom om te doen wat ons die minste verwag, soos om die goddelose stad van Nineve te vergewe.
Het jy dit alles al uitgepluis? Weet jy wat God gaan doen? Indien wel, hou nou maar op met lees, want dis nie vir jou bedoel nie. In werklikheid kan niks jou help nie, want onthou, jy het dit alreeds ontrafel. As jy egter kan toegee dat jy God nog nie heeltemal uitgepluis het nie, moet jy jouself oopstel vir "miskien"-gebede.
Wees oop vir wat God ook al in hierdie situasie wil doen, al is dit nie wat jy wil hê nie. Moet nooit bang wees om aanhoudend "Moet nogtans nie doen wat ek wil nie, maar wat U wil" te bid nie.
Jy gaan nou die gedeelte lees waar Jona 'n "miskien"-oomblik gehad het. God staan op die punt om Homself te bewys as dieselfde God in die Ou Testament as die God wat Hy vandag is — genadig. Hy het nog nooit verander nie en Hy sal ook nooit nie. Hy is altyd goed, altyd vergewensgesind en altyd gewillig om die Jona's van die wêreld verkeerd te bewys. Soek Hom vandag aanhoudend terwyl jy vas en bid.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Laat ek nou maar eerlik wees, ek hou nie van vas nie! Dis nie pret om van jou geliefkoosde kos en die gemaklike leefstyl wat jy handhaaf, afstand te doen nie. Ek hou dalk nie van vas nie, maar ek hou baie van die resultate. Die "Daniël vas" het MY LEWE VERANDER! As jy die vas toegewyd doen en hierdie leesplan volg, gaan dit jou lewe ook verander. Kom ons skep ruimte vir God op hierdie aangryplike reis wanneer ons vas soos Daniël dit gedoen het.
More