Vas soos DaniëlVoorbeeld

Fast Like Daniel

DAG 16 VAN 21

Afdeling 4: Vol Verwagting

Ek Glo Wel

Vandag gaan jy lees wat heel moontlik die beste voorbeeld van 'n desperate gebed in die Bybel kan wees: "Ek glo, help my in my ongeloof!"

Daardie woorde kom van 'n pa wat alles probeer het om hulp vir sy seun te kry, maar wat niks anders as mismoedigheid, teleurstelling en bitter nederlaag teëgekom het nie. Hy het selfs vir God probeer — hy het sy seun na Jesus se dissipels toe gevat en hulle kon niks vir hom doen nie. 

Hierdie pa is desperaat. Ek is self 'n pa en kan myself in sy skoene (of sandale) plaas. As dit een van my seuns was, sou ek enigiets doen wat ek kon en ek sou nie moed verloor nie — al het ek gedink die situasie lyk hopeloos.

Hierdie man het nie meer baie hoop oor nie. Sy geloofstenk is leeg en hy hang nog net aan 'n draadjie. As Jesus nie kan help nie …

Het jy al ooit só gevoel? Ek het.

Hierdie man het egter iets baie belangriks verstaan: sonder verwagting, sonder geloof, is daar geen hoop nie. Hy raak dus ontslae van valse nederigheid en die masker van 'n "goeie gelowige" en vra reguit om hulp: "Ek glo, help my in my ongeloof!"

Die laaste deel van ons besprekingspunte is verwagting. Jy kan dit geloof noem — dis daardie hoopvolle gevoel wat deel van ons gebede moet wees. Dis nie genoeg om net te glo dat God God is nie; ons moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon (Hebreërs 11:6).

Jy voel dalk soos die pa van wie ons vandag gelees het, en as dit so is, gaan ek vir jou dieselfde ding vertel as wat Jesus vir die pa gesê het: "Alle dinge is moontlik vir die een wat glo."

Henry Ford se bekende woorde was: "Of jy dink jy kan en of jy dink jy kan nié, jy is reg." Wat is jou verwagting? Glo jy dat God dit kan doen — wat "dit" ook al in jou lewe verteenwoordig? Of het jou hoop 'n laagtepunt bereik, soos met hierdie pa?

As jou tenk leeg is, jy uitgebrand is, jy uitgeput is, en dit moeilik is om God te glo — is jy presies op die regte plek! Jy hoef nie 'n bietjie geloof bymekaar te skraap of niksseggende, positiewe gedagtes op te roep nie. Vra eerder vir Jesus om jou te help, soos hierdie man gemaak het. 

Maak jou reg vir 'n bietjie goeie nuus: jy is alreeds besig om te doen wat Jesus vir sy dissipels gesê het om te doen — vas en bid. Wat gebeur as ons met verwagting vas en bid? 

DEURBRAAK

Dag 15Dag 17

Aangaande hierdie leesplan

Fast Like Daniel

Laat ek nou maar eerlik wees, ek hou nie van vas nie! Dis nie pret om van jou geliefkoosde kos en die gemaklike leefstyl wat jy handhaaf, afstand te doen nie. Ek hou dalk nie van vas nie, maar ek hou baie van die resultate. Die "Daniël vas" het MY LEWE VERANDER! As jy die vas toegewyd doen en hierdie leesplan volg, gaan dit jou lewe ook verander. Kom ons skep ruimte vir God op hierdie aangryplike reis wanneer ons vas soos Daniël dit gedoen het.

More

Baie dankie aan Scott Williams wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.fastlikedaniel.com