Geloof en Teologie: Dr. John MacArthur Vrae & AntwoordeVoorbeeld
Het Jesus gedurende sy verhoor op sy Godheid aanspraak gemaak?
In Markus 14:61 het Kajafas, die hoëpriester, vir Jesus gevra of Hy die "Christus" is, hierdie benaming verwys na Jesus se aanspraak om die beloofde Messias te wees. Jesus se woorde: "Seun van Hom aan wie die lof toekom" verwys baie duidelik na Jesus se aanspraak op Godheid. Dit is die enigste Nuwe Testamentiese gebruik van hierdie uitdrukking en is 'n voorbeeld van Joodse bewoording wat vermy om die naam van God direk te gebruik. Jesus se erkenning as die Messias en Godheid (sien Lukas 4:18-21, Johannes 4:25-26, 5:17-18, 8:58) het altyd sterk teenkanting van die Joodse leiers veroorsaak (Johannes 5:19-47, 8:16-19, 10:29-39). Dit is duidelik dat die hoëpriester hierdie vraag gevra het met die hoop dat Jesus dit sou bevestig en Homself daardeur blootstel aan die formele klag van godslastering.
Jesus se antwoord "Ek is" (vers 62), was 'n uitdruklike, ondubbelsinnige verklaring dat Hy beide die Messias en die "Seun van die mens" is — Jesus gebruik hierdie algemeen erkende, messiaanse titel van Homself meer as 80 keer in die evangelies, hier in 'n verwysing na Psalm 110:1 en Daniël 7:13 (sien Openbaring 1:13, 14:14). Hy voeg daarby dat sy verheerlikte posisie is: "waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is." Jesus se woorde: "Hom wat magtig is" is nog 'n verwysing na God.
Dat Jesus se verklaring begryp word, word gesien toe die hoëpriester "uit verontwaardiging sy klere skeur" (vers 63), 'n seremoniële, en in hierdie geval vergesogte, vertoon van verdriet en verontwaardiging oor die veronderstelde ontering van die Naam van God deur Jesus (sien Genesis 37:29, Levitikus 10:6, Job 1:20, Handelinge 14:13,20). Streng gesproke, was Jesus se woorde nie "godslasterlik" (vers 64) of uitdagend oneerbiedig teenoor God nie (Levitikus 24:10-23), maar Kajafas het dit as sulks beskou omdat Jesus aan Homself gelyke mag en voorreg met God opgeëis het.
Aangaande hierdie leesplan
Dr John MacArthur beantwoord vra oor geloof, teologie en leerstellings. Elke dag se leeswerk sluit ook bykomende verse in om te bestudeer om 'n dieper insig in die dag se onderwerp te kry.
More