Wie Is God?Sample
Wat beveel God in die agtste gebod? — Matteus 7:7-12
Een van die groot voordele van ’n lewe met God is dat Hy ’n betroubare en vrygewige Vader is. Daarom moedig Jesus sy dissipels aan om met groot vrymoedigheid — soos ‘n seun of dogter — tot God te bid, uitgedruk met die drie woorde: vra, soek en klop. Want die een wat vra, ontvang. Die een wat soek, vind. Die een wat klop, ervaar dat daar oopgemaak word.
God is ’n beter Vader as ‘n aardse mens (vader) wat darem brood en vis vir sy kinders sal gee eerder as ‘n klip of ‘n slang. God sál goeie dinge gee aan dié wat van Hom vra, en dit baie meer geredelik as wat ons — wat in vergelyking met God sleg (boos) is — bereid is om dit vir ons kinders te doen.
’n Mens hoor hier die vorige hoofstuk se belofte eggo — julle Hemelse Vader weet tog wat alles julle nodig het — en dit laat ’n mens ook vorentoe kyk na die twee verhale van broodvermeerdering (Matteus 14-15) waar dit juis brood en vis is wat ’n rol gaan speel. Gebedsverhoring is dus een van die vrugte van ’n lewe van geregtigheid.
Hierdie opdrag van Jesus het mettertyd as die sogenaamde Goue Reël bekend geword: “Alles dan wat julle wil hê dat die mense vir julle moet doen, so moet julle ook vir hulle doen.” Dié reël kom ook in ander kulture en godsdienste voor, meer kere in die negatiewe vorm, bv. “Wat jy haat, moenie aan ander doen nie.” En dan som Jesus hierdie Goue Reël op as die betekenis van die wet en die profete.
Hoewel Jesus nie hier meer spesifiek uitspel waarop Hy die Goue Reël baseer nie, word Levitikus 19:18 deur baie geleerdes as basis aanvaar vir hierdie reël: “Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.”
Hoe dit ook al sy, Jesus gebruik die Goue Reël om die kern van die Wet en die Profete te beskryf. Waar dit in ‘n mens se lewe die deurslag gee, dra jy die vrug van ’n lewe van geregtigheid. Waar God die Here is, waar Hy erken en gedien word, dáár doen ’n mens aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê, want dít is wat die wet en die profete ook sê.
Wat wel seker is, is dat hierdie vers uit Levitikus 19 die basis van die tweede deel van die dubbele liefdesgebod vorm wat Jesus later gaan uitspel (Matteus 22:34-40). Daarby eggo dit ook die vorige paar verse se belofte dat God ‘n vrygewige Vader is, een wat vertrou kan word dat Hy in liefde sal optree teenoor diegene wat Hom as Vader erken.
1. Wat tref jou van Jesus se lering hier wat verbind kan word met die agste gebod?
2. Dink na oor die impak wat dit op ons getuienis in die wêreld sal hê as ons God vir alles vertrou en aan ander doen wat ons wil hê hulle ook vir ons sal doen.
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan hierdie Goue Reël wat die hart is van die boodskap van God in die Bybel.
4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Matteus 7 met die tema: Jesus fokus op die vrug van geregtigheid.
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More