YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 88 OF 364

Wat beveel God in die tiende gebod? — 1 Timoteus 6:6-10

Waar Paulus in hoofstuk 5 oor Timoteus se bediening IN die gemeente gepraat het, en leiding gegee het oor die onderlinge onderskraging, praat hy in hoofstuk 6 oor die bediening van die gemeente na BUITE in die gemeenskap. Die onderlinge onderskraging moet na buite in onderlinge eerbetoon uitmond, sodat mense in hulle werksverhoudinge kan sien hoe die evangelie werk.

Die gemeente is die draer en beskermer van die evangelie, en doen dit deur in leer en lewe opreg en outentiek te lewe. En veral in die werkplek kan die naam van God in gedrang kom, sowel as die leer van en geloof in Christus, as hulle met mekaar in konflik oor allerlei sou wees. Lojaliteit aan mekaar en aan die evangelie is nie onderhandelbaar nie. Die bande tussen gelowiges is deur God gesmee, soos trouens ook hulle bande met Hom. En dit moet bo alles gehandhaaf word. Selfs ons onderlinge vermaning, bemoediging en onderskraging moet uit hierdie diep bewussyn van eenheid met mekaar en God gedoen word.

Hierdie lojaliteit aan God en mekaar moet in alle lewensverbande gehandhaaf word. Die een verband wat Paulus uitlig, is die werkplek, waar gelowiges wat in ’n ongelyke situasie met mekaar moet saamwerk (slaaf vs eienaar), mekaar steeds as broers en susters moet raaksien en respekteer. Maar dit gaan nie net oor die verhouding slaaf vs eienaar nie. Dit raak ook die wyse waarop ’n mens dink oor jou doel op aarde. Gierigheid is altyd ’n groot versoeking, wat selfs wanneer jy met die dinge van die Here besig is, jou kan verlei om daaruit geld te probeer maak. Die einde daarvan is dat jy van die geloof sal afdwaal en in allerlei ellende beland. Daarom is Paulus se raad aan Timoteus en sy gemeente om tevrede te wees met wat hulle het.

1. Paulus se lering hier kan verbind word met die tiende gebod. Wat tref jou van Paulus se lering?

2. Paulus lê klem op ons eintlike rykdom. ‘n Godsdiens wat ons tevrede laat met God se voorsiening. Waarom is die liefde vir rykdom, van watter aard ook al, só ‘n gevaar?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die Here se sorg vir jou. Rykdom in God is die enigste belegging wat sal hou.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van 1 Timoteus 6 met die tema: Rykdom in God is die enigste belegging wat sal hou.

Day 87Day 89

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More