YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 69 OF 364

Wat beveel God in die eerste drie gebooie? – Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Heidelbergse Kategismus hieronder. Wat leer jy van wat God van ons verwag in die eerste drie gebooie? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

94 Vraag: Wat gebied God in die eerste gebod?

Antwoord: Ek moet ter wille van my siele heil en saligheid alle afgodery (a), towery, waarsêery, bygeloof (b), aanroeping van heiliges of ander skepsels (c) vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige ware God reg leer ken (d), Hom alleen vertrou (e), my slegs aan Hom met alle nederigheid (f) en geduld onderwerp (g) en van Hom alleen alle goeie dinge (h) verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê (i), vrees (j) en eer (k). Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel (1).

(a) 1 Johannes 5:21; 1 Korintiërs 6:10; 10:7, 14. (b) Levitikus 19:31 Deuteronomium 18:9, 10, (c) Matteus 4:10; Openbaring 19:10; 22:8, 9. (d) Johannes 17:3. (e) Jeremia 17:5, 7. (f) 1 Petrus 5:5. (g) Hebreërs 10:36; Kolossense l:11; Romeine 5:3, 4; I Korintiërs 10:10; Filippense 2:14. (h) Psalm 104:27; Jesaja 45:7; Jakobus 1:17. (i) Deuteronomium 6:5; Matteus 22:37. (j) Deuteronomium 6:2; Psalm 111:10; Spreuke 1:7; 9:10; Matteus 10:28. (k) Matteus 4:10; Deuteronomium 10:20. (1) Matteus 5:29; 10:37; Handelinge 5:29.

95 Vraag: Wat is afgodery?

Antwoord: Dit is om in die plek van die enigste ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel (a).

(a) Efesiërs 5:5; 1 Kronieke 16:26; Filippense 3:19; Galasiërs 4:8; Efesiërs 2:12; 1 Johannes 2:23; 2 Johannes 9; Johannes 5:23.

96 Vraag: Wat eis God in die tweede gebod?

Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie (a) en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie (b).

(a) Jesaja 40:18, 19, 25; Deuteronomium 4:15, 16; Romeine 1:23; Handelinge 17:29. (b) 1 Samuel 15:23; Deuteronomium 12:30; Matteus 15:9.

97 Vraag: Mag ons dan glad nie beelde maak nie?

Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie (a). Die skepsels mag wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons van hulle afbeeldings maak en besit om dit te vereer en Hom daardeur te dien (b).

(a) Jesaja 40:25. (b) Eksodus 34:17; 23:24; 34:13; Numeri 33:52.

98 Vraag: Mag ons beelde as "boeke van die leke" in die kerkgebou toelaat?

Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie (a), maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig (b).

(a) Jeremia 10:8; Hebreërs 2:18. (b) Romeine 10:14, 15, 17; 2 Petrus 1:19; 2 Timoteus 3:16, 17.

99 Vraag: Wat eis die derde gebod?

Antwoord: Ons mag die Naam van God nie laster of misbruik deur te vloek (a), deur 'n valse eed (b) of deur onnodig te sweer nie (c). Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie (d). Kortom, ons mag die heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons reg bely (f), aangeroep (g) en in al ons woorde en werke geprys word (h).

(a) Levitikus 24:15, 16. (b) Levitikus 19:12. (c) Matteus 5:37; Jakobus 5:12. (d) Levitikus 5:1; Spreuke 29:24. (e) Jeremia 4:2; Jesaja 45:23. (f) Matteus 10:32; Romeine 10:9, 10. (g) Psalm 50:15; 1 Timoteus 2:8. (h) Kolossense 3:17; Romeine 2:24; 1 Timoteus 6:1.

100 Vraag: Is dit dan so 'n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan en verbied nie?

Antwoord: Ja, seker (a), want geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf (b).

(a) Spreuke 29:24; Levitikus 5:1. (b) Levitikus 24:16.

101 Vraag: Mag 'n mens ook godvresend by die Naam van God 'n eed sweer?

Antwoord: Ja, as die owerheid dit van sy onderdane eis of as die nood dit vereis om daardeur trou en waarheid te bevestig. Dit moet dan tot eer van God en tot heil van ons naaste gedoen word. Sodanige eedswering is op die Woord van God gegrond (a), en die gelowiges in die Ou en Nuwe Verbond het dit reg gebruik (b).

(a) Deuteronomium 6:13; 10:20; Jesaja 48:1; Hebreërs 6:16. (b) Genesis 21:24; 31:53; Josua 9:15; 1 Samuel 24:23; 2 Samuel 3:35; 1 Konings 1:29; Romeine 1:9; 9:1; 2 Korintiërs 1:23.

102 Vraag: Mag 'n mens ook by die heiliges of by ander skepsels sweer?

Antwoord: Nee, want om 'n regte eed te sweer, beteken dat ek God aanroep as die enigste kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en my te straf as ek vals sweer (a). Hierdie eer kom geen skepsel toe nie (b).

(a) 2 Korintiërs 1:23; Romeine 9:1. (b) Matteus 5:34-36; Jakobus 5:12.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenis jou gee oor wat God van jou met die eerste drie gebooie verwag.

Scripture

Day 68Day 70

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More