Wie Is God?Sample
Wat beveel God in die eerste drie gebooie? — Kolossense 1:15-20
Let op die digterlike taal van vers 15-20 wat dit waarskynlik maak dat dit ‘n lied is wat die geloof van die vroeë kerk verwoord het, moontlik met byvoegings van Paulus. Dit is in twee parallelle strofes opgedeel: vers 15-17 (skepping) en vers 18-20 (herskepping), waarin dieselfde sake besing word, telkens uit ‘n ander hoek (skepping/herskepping): die wese/oorsprong van die Seun, sy status (Eerste) en werk in die hele kosmos, sowel as in die kerk, en sy versoenende rol in hemel en op aarde. Hiermee poog Paulus om die verkeerde idees wat onder hulle begin posvat in die kiem te smoor.
Let op hoe God as verhewe bo die skepping geteken word. God is dus nie deel van die skepping nie, maar skep dit as iets wat onder sy beheer en versorging staan. Let ook op dat daar van sigbare en onsigbare wesens gepraat word, en dat dit alles deur God geskep is. Paulus beklemtoon dit onder andere omdat daar van die gelowiges in Kolosse was wat bv engele aanbid het. Hiermee wys Paulus dat hierdie wesens onder God is, deur Hom gemaak is, en daarom nie voorwerpe van aanbidding kan wees nie. Jesus het ‘n besondere rol gespeel in die skepping, in sy voor-menslike bestaan. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
En na sy dood en opstanding is Jesus ook die Een vir Wie die lof van die herskepping bedoel is. Let op dat dit juis deur die kruis-evangelie is wat Jesus nou nie net Here van die skepping is nie, maar Here van die herskepping, dws van gelowiges wat hulle op God se versoening verlaat. Deur Hom is alles op die aarde en in die hemel met God versoen.
1. Dink na oor die verbande van hierdie belydenis oor Jesus, die Seun van God, met die eerste drie gebooie van die wet. Wat tref jou daarvan?
2. Dink na oor die wyse waarop Jesus hier as die sigbare uitbeelding van die onsigbare God verkondig word en dat alle dinge deur Hom en vir Hom geskep is. Hoe verander dit jou perspektief op Jesus?
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die feit dat die eerste drie gebooie jou eintlik radikaal anders laat dink oor Jesus en die betekenis van sy boodskap vir alle mense.
4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Kolossense 1 met die tema: Jesus die Here van die Skepping en die Herskepping.
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More