Wie Is God?Sample

Wat beveel God in die eerste drie gebooie? — Handelinge 17:23-31
Let op dat Paulus hier nie huiwer om die publieke terrein te betree nie. Paulus is in Atene waar hy wag vir Silas en Timoteus om van Berea af te kom, na die opstand rondom Paulus. Paulus raak egter verontwaardig (sy gees roer in hom) weens die baie afgodsbeelde in die stad. Maar let op dat hy nie sy verontwaardiging uitspreek en op ander mense aflaai nie. Nee, hy begin waar hulle is, en hak mettertyd die evangelie daaraan. Hy kryt nie alles as boos uit nie, en hy begin nie om die afgodsbeelde en altare af te breek nie of geestelike oorlogvoering op die manier wat dit soms vandag gedoen word nie. Hy begin eerder 'n gesprek daaroor!
Dan begin 'n klomp filosowe met hom in gesprek tree (eintlik 'n strydgesprek), veral Epikureërs en Stoïsyne, Lukas sê hulle het met hom gestry en hom 'n praatjiesmaker genoem. Die woord kom van 'n beskrywing van 'n voël wat saadjies oppik, en wat ook gebruik is om mense wat stukkies kennis hier en daar oppik te beskryf.
Epikureërs (Epikuris – 3de eeu v.C.) was baie materialisties en praktiese ateïste.Hulle het nie gedink dit is belangrik of nodig om God te soek nie.Geluk en plesier was die enigste lewenstyl wat sin gemaak het. Hulle het geglo dat die grootste goed was om eenvoudige plesier na te streef en pyn te vermy. Lewensgenot was die hoogste goed. Dit kon jy kry deur kennis, vriendskap en matigheid. Dit staan teenoor die radikaliteit van die offervaardigheid van Christus en die lewe van gehoorsaamheid aan God in dissipelskap.
Epikurus het daarby geleer dat die hele wêreld bestaan uit atome en alles ontstaan het uit die toevallige bymekaar kom van die atome. Klink dit nie verdag baie soos die modernistiese idee van die toevallige evolusie van alles uit 'n oersop van materie nie? Voeg daarby hulle idee dat God de facto nie kan bestaan nie, veral vanuit die voorkoms van lyding in die wêreld, en dit is nie moeilik om die vertrekpunt van baie van vandag se moderniste se filosofiese idees oor God se nie-bestaan by hulle te vind nie.
Die Stoïsyne weer was panteïste wat geleer het dat die goddelike logos, die goddelike rede, die hele wêreld besiel en dat 'n redelike en deugdelike lewenstyl die meeste sin maak. Dit is gebaseer op die idees van Zeno (ook 3de eeu v.C.) wat klem gelê het op selfbeheersing en die regte gedrag ten spyte van impulse van buite af of selfs emosies van binne af. Innerlike onverstoorbaarheid en uiterlike gedissiplineerde optrede. Die gode was onpersoonlik en 'n soort noodlot waarin jy moes berus. Na jou dood keer jy terug na die kosmiese siel.
Die mense neem hom toe na die Areopagus waar hulle hom kans gee om beter te verduidelik wat hy bedoel met die nuwe leringe, want dit het vir hulle baie vreemd voorgekom. Die Areopagus is vernoem na Ares, die god van oorlog, ook Mars genoem.
Paulus praat dan met die Ateners en hak aan by hulle godsdienstigheid (hy kon ook bedoel het, bygelowig) en lig spesifiek die agnostici uit — die mense wat 'n altaar gebou het vir die onbekende god (ἄγνωστος θεός).
Dié God verkondig hy dan aan hulle (en let op hy praat glad nie oor die Joodse geskiedenis nie, want dit sou nie relevant wees nie). Hy begin met dít wat hulle in gemeen het in hulle denke oor God en vorder dan na die boodskap van die opstanding. Hy skets God:
- as die Skepper, en hy doen dit uitvoerig met verwysing na die kosmos, die hemel en die aarde, en die skepping van mense.
- Daarna skets hy God as die God van die Geskiedenis wat die nasies en hulle wel en wee bepaal. Interessant is dat hy nie hiermee eintlik die bestaan van die verskillende nasies en hulle grense in beton wil giet nie (soos dit verkeerdelik soms in die verlede verstaan is), maar dat hy eintlik wil wys hoe dit een God is wat die verskillende nasies tot gevolg het, en dat daar nie verskillende gode vir die verskillende nasies bestaan nie, 'n baie algemene geloof in daardie tyd.
- Daarna gee hy vir hulle 'n antropologiese les. Hy sê dat God die mens gemaak het met 'n ingebore behoefte na Homself en sy wil (iets wat Augustinus later ook sou sê). “God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind.”
- En dan gee hy 'n skets van God se teenwoordigheid, wat nie ver is van enigeen van ons nie. Om die waarheid te sê, “deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” en “van Hom stam ons af”. Hy gebruik hier twee aanhalings van hulle digters om die punt te maak dat ons in ons wese aan Hom verbind is en van Hom en sy wil afhanklik is.
- Die eerste frase "deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons" kom waarskynlik van Epimenides. Hoewel Epimenides begin by die lewende mens en van hieruit argumenteer tot by ’n lewende God, en die lering van Jesus eintlik presies die teenoorgestelde is (vgl. bv. Lukas 20:37 e.v.), gebruik Paulus dit net as 'n aanknopingspunt.
- Die tweede aanhaling, naamlik "ons stam van Hom ook af" is van beide Kleantes en Aratus. In hulle gebruik daarvan, is die lof van Zeus besing, maar weereens is dit net 'n aanknopingspunt vir Paulus.
- En hy sluit met 'n afwysing van afgodsbeelde as 'n toegang tot God en 'n oproep tot bekering wat hy koppel aan die opstanding van Jesus.
Bruce wys daarop dat hy baie behendig die Epikureërs se leer dat God niks van die mens nodig het en daarom nie deur mense gedien kan word nie, asook die Stoïsyne se geloof dat God die bron van alle lewe is, kombineer. Paulus praat dus met ’n soort retoriese tegniek wat hom soveel moontlik gemene grond met sy gehoor gee.
1. Dink na oor die verbande van hierdie preek van Paulus aan die Grieke in Athene met die eerste drie gebooie van die wet. Wat tref jou daarvan?
2. Dink na oor die wyse waarop Jesus hier as die Een verkondig word wat die wêreld gaan oordeel en dat sy opstanding uit die dood die bewys is daarvan.
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die feit dat die eerste drie gebooie — soos die res van die wet — op alle mense van toepassing is en vir hulle van beslissende betekenis is.
4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Handelinge 17 met die tema: Paulus tree ook in die publieke sfeer op met die evangelie.
Scripture
About this Plan

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More