YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 66 OF 364

Wat beveel God in die eerste drie gebooie? — Matteus 6:9-10

Die eerste bede van die Ons Vader begin met die erkenning van God se Vaderskap wat tot die heiliging van sy Naam moet lei. Ons vertroue is op Hom gerig. Hy sal immers veel eerder antwoord as wat aardse pa’s dit sou doen. Dit is ook ‘n gebed dat God se eer bó alles sal staan; dat daar ontsag vir Hom sal wees oor die hele aarde; dat mense Hom sal ken soos Hy waarlik is; dat almal God sal heilig, roem en prys in al sy werke.

Die tweede bede fokus op sy koninkryk wat moet kom, beide in terme van sy heerskappy in die wêreld as in sy kinders se lewe. Dit is ‘n versugting dat dinge op aarde reggestel sal word soos God dit van die begin af bedoel het (Romeine 8:26) en dat almal hulle al hoe meer sal onderwerp aan sy koningsheerskappy. God moet alles en in almal wees.

Die derde bede fokus daarom op sy wil wat op aarde moet geskied presies net soos Hy dit in die hemel besluit het (vgl Openbaring 4-5); dat mense hulle sonder teëpratery aan God se wil sal onderwerp, want sy wil alleen is goed. Dit beteken natuurlik dat ‘n mens jou eie wil prysgee soos Jesus in Getsemane gebid het: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matteus 26:39,42).

Die eerste gebod in Eksodus 20:3 (Deuteronomium 5:7) is die verbod op ander gode. Dit beteken dat God niemand duld wat langs Hom aanbid en vereer word nie. Alle afgodery word dus daarmee verbied. Die Here verwag dat daar net met Hom as die ware God in ‘n verhouding getree mag word. Die weë van sy koninkryk moet ten alle koste leer ken word, want dit is net Hy alleen wat vertrou kan word met die lewe. Daarom moet die Godsvolk Hom met hulle hele hart liefhê, vrees en eer.

Die tweede gebod in Eksodus 20:5 (Deuteronomium 5:8-10) verbied die maak van enige afbeelding van God wat aanbid of vereer word. Hy is ‘n jaloerse God wat onverdeelde trou aan Hom en sy wil van sy mense eis. Gehoorsaamheid sal geseën word, en ongehoorsaamheid gestraf word. Die uitwerking daarvan sal in die geslagte gesien kan word.

Die derde gebod in Eksodus 20:7 (Deuteronomium 5:11) verbied enige misbruik van God se naam. Sy naam mag nie onteer word deur Hom te laster of te vloek nie. Sy naam mag ook nie misbruik word tot eie voordeel nie deur bv. ‘n valse eed in sy Naam te maak nie. Dit sluit dus onnodige eedswering uit. Sy Naam van God moet met vrees en eerbied gebruik word, “sodat Hy deur ons reg bely, aangeroep en in al ons woorde en werke geprys kan word”, soos die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 99 dit uitlê.

1. Jesus sluit in die Ons Vader by die eerste drie gebooie aan en maak dit die hart van ons gebed. Watter verbande sien jy raak? Hoe help hierdie drie gebede jou om die eerste drie gebooie na te kom?

2. Loof die Here dat Hy ons selfs in ons gebede help om God bó alles te stel. Maak die Ons Vader ‘n deurlopende deel van jou gebede. Memoriseer die Ons Vader in ‘n vertaling wat jy verkies, sodat jy dit te enige tyd kan bid.

3. Bid die verse later vandag weer om jou te herinner aan die wyse waarop die drie gebede jou help om die eerste drie gebooie na te kom.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Matteus 6 met die tema: Jesus fokus op die lewe van geregtigheid.

Day 65Day 67

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More