Wie Is God?Sample
Wat beveel God in die eerste drie gebooie? — Openbaring 15:3-4 en Eksodus 15:1-21
Openbaring 15 is ’n kort inleiding op die finale oordeel waarin die sewe goue bakke gloeiende kole van God se toorn op die aarde uitgegooi word. Dié sewe bakke met oordele word as sewe plae geteken wat God se oordeel voltooi wat ook Babilon (Rome) se vernietiging insluit. Hierdie einde verskaf groot vreugde vir die gelowiges wat die oorwinning behaal het. Hulle sing die lied van Moses (vgl. Eksodus 15), waarmee die oordele direk met die wyse waarop die plae in Egipte verlossing vir die Israeliete gebring het, verbind word (vgl. ook Deuteronomium 32 wat Moses se lied met die Intog in Kanaän weergee). Dit is ook die lied van die Lam waarin God vir sy Almag, reg en betroubaarheid geloof word en as Koning van die nasies aanbid word. Dit dui dus op die feit dat verlossing en oordeel kante van dieselfde munt is. Sonder die oordeel sal God se mense nie verlos word nie. Sonder die verlossing sal die oordeel net so boos wees as dié wat geoordeel word.
Eksodus 15 gaan oor Moses, Mirjam en Mara. Moses (15:1-19) en Mirjam (15:20-21) span saam en lei die volk in ‘n loflied wat die Here se verlossing van sy volk verheerlik sowel as sy verplettering van sy vyande. Die lied fokus egter nie net op wat Hy alles vir die volk by die Rietsee gedoen het nie, maar vir wie Hy inderdaad vir hulle was tot in die beloofde land. Hy wys hier dat Hy nie net hoog verhewe is nie, maar die Een wat naby kom en direk betrokke raak by die lewe van sy mense.
1. Die inhoud van die lied van Moses en die lied van die Lam in Openbaring 15:3-4 is dieselfde, sê Johannes. Hy verwys waarskynlik na Eksodus 15:1-21 se lied van Moses en Miriam. Daar is egter ook ooreenkomste met die eerste drie gebooie van die wet van Moses. Vergelyk die eerste drie gebooie inhoudelik met hierdie lied in Openbaring. Wat sien jy raak? Watter boodskap het dit vir jou?
2. Wat is die bedoeling van die eerste drie gebooie? Loof die Here dat Hy so duidelik die liefde vir Hom eerste stel en daardeur vir ons die hoop op ‘n nuwe wêreld gee waar almal hulle hieraan sal hou.
3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat die boodskap van die OT en NT inhoudelik ooreenstem en die liefde vir God eerste stel vir die hele wêreld.
4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Openbaring 15 en Eksodus 15 met die temas: Die oordeel breek onafwendbaar aan, en Die Here is die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter.
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More