YouVersion Logo
Search Icon

Die Belangrikheid Van GebedSample

Die Belangrikheid Van Gebed

DAY 35 OF 43

Laat Toe Dat Hy Jou Van Jou Sondes Reining

Lees: Psalm 51 

SOAP: Psalm 51:12 

Skep vir my ‘n rein hart, o God,

vernuwe my gees en maak my standvastig. .


Oordenking

Psalm 51 is geskryf nadat Dawid egbreuk en moord gepleeg het. Dit is ‘n gebed van bekering tot die Here. Daarin erken Dawid God se barmhartigheid, sy eie sonde en die vermoë van God om te herstel. Dawid betreur sy sonde nadat hy die ware verdorwenheid van sy hart erken het. Hy het besef dat sy groot oortreding teen God was en dat God alleen vergifnis en herstel kon bied.

Dawid het ‘n skoon hart begeer. Hy het God gevra om sy gees te vernuwe en sy hart weereens op God te rig. Sy begeerte om na sy sonde met God herstel te word, toon sy ware begrip van die gewig van sonde en die heiligheid van God, sowel as om te weet dat God se barmhartigheid die enigste ding is wat hom kon red. 

Terwyl Dawid die proses moes ondergaan om homself van sonde te reinig, het sy offers nie vergifnis gebring nie. Vergifnis kom van God alleen. As ons vandag sondig, wend ons ons nie tot godsdienstige rituele nie, maar na Jesus Christus. Hy is ons plaasvervanger wat Homself offer sodat ons nie meer die boete vir ons sonde hoef te betaal nie. Hy het die toorn van God op Hom geneem, sodat ons as regverdig beskou kan word as ons ons geloof in Hom plaas.

Ons word gered deur God se genade, deur geloof en in Jesus Christus alleen. Deur God se genade het Hy Jesus gestuur om die offer en die betaling vir ons sondes te wees. Deur niks anders as geloof in Hom, geen dade, gebede of offerandes van ons eie nie, word ons gered. Jesus Christus is die enigste weg van redding en Hy bied vergifnis aan ons as ons ons lewens in sy hande plaas. Ons was eens vyande van God, maar deur sy genade word ons skoongewas van sonde. Ons kan die gebed van Dawid as voorbeeld bid wanneer ons ons sonde bely, wetende dat ons ten volle vergewe is en ten volle in Christus nuut gemaak is.

Het jy jou lewe aan die Here oorgegee? Wie ken jy wat die Goeie Nuus van Jesus Christus moet hoor? Sal jy vandag daardie Goeie Nuus deel?


Gebed

Vader God, ek dank U Here, dat U my liefhet, selfs toe ek u vyand was. Ek dank U dat U u Seun vir my opgeoffer het. Here, help my om ten volle op U te steun, volkome op U te vertrou en al my probleme en my pyn aan U oor te gee. Skep vir my ‘n rein hart en maak my standvastig. In die Naam van Jesus, amen. 



Scripture

Day 34Day 36

About this Plan

Die Belangrikheid Van Gebed

As jy graag nader aan jou Verlosser wil kom deur gebed ‘n prioriteit in jou lewe te maak, dan is Die Belangrikheid van Gebed vir jou. Ons gaan tyd deurbring in God se Woord, antwoorde kry op vrae oor hoe ons moet bid, hoe om gebed ‘n prioriteit te maak en hoe God gebed verhoor. Mag God deur hierdie studie ons oë oopmaak vir die wonder en voorreg van gebed.

More