YouVersion Logo
Search Icon

Die Belangrikheid Van GebedSample

Die Belangrikheid Van Gebed

DAY 34 OF 43

Wy Jou Toe Om Sy Krag te Soek 

Lees: Psalm 18 

SOAP: Psalm 18:7 

In my nood roep ek na die Here, 

ja, ek roep om hulp na my God.

In sy paleis hoor Hy my geroep. 

Ek roep na Hom om hulp, 

en Hy luister na my. 


Oordenking

Koning Dawid het baie van die Psalms geskryf wat ons vandag in ons Bybels vind. Dawid was eerlik met die Here in sy gebede en het dikwels sy hart voor God uitgestort, tot Hom uitgeroep en om verlossing gevra. Dawid was ook ook ruimhartig met lof. Hy het nooit ‘n versoek aan God gerig sonder om Hom ook te loof nie. 

In Psalm 18 vind ons die woorde van Dawid nadat hy van sy vyande verlos is, insluitende koning Saul. Dawid het vir baie jare van Saul af weggevlug en vir sy lewe geveg. Dawid se woorde in Psalm 18 beskryf in pragtige poësie die manier waarop God Dawid gered en sy vyande oorwin het. 

Dawid het besef dat dit nodig is om sy versoeke voor die Here, die enigste Een wat kon help, neer te lê. Hy het sy hart uitgestort te midde van sy nood. Dawid het nooit sy ware gevoelens weggesteek of probeer om homself reg te ruk voordat hy na God toe gaan nie. Hy was eerlik met God en het tot Hom geroep om hulp wanneer hy dit nodig gehad het. Dawid het keer op keer die krag van die Here gesoek omdat hy sonder twyfel geweet het dat hy geen sukses sonder God sou hê nie. 

Dawid skryf in hierdie Psalm oor die manier waarop God op sy gebed gereageer het. God het Dawid se gebed verhoor en hy het in krag en mag gereageer. God het nie gehuiwer om Dawid uit sy nood te red of sy vyande te vernietig nie. God het Dawid te hulp gekom presies op die tyd en hoe hy dit nodig gehad het.

As ons in nood verkeer, het ons een plek om ons na te wend: God. Hy sal ons nooit in ons nood laat nie. Ons smekinge bereik Hom en Hy hoor. Hy reageer op ons met sy krag en mag en sorg vir ons op maniere wat ons nooit verwag het nie. Wanneer ons ons harte voor Hom uitstort en sy krag soek, kan ons seker wees dat Hy sal antwoord. Hy vernietig miskien nie ons vyande letterlik soos Dawid s’n nie, maar Hy hoor en gee beslis om. Ons kan Hom vertrou.


Gebed

Here God. U hoor my gebed. Ek roep tot U in my nood. Antwoord my asseblief want ek het U nodig. Red my en help my. Here, ek glo U hoor my gebede en U gee om vir my. Ek wag met groot afwagting op u verlossing. In die Naam van Jesus, amen.




Scripture

Day 33Day 35

About this Plan

Die Belangrikheid Van Gebed

As jy graag nader aan jou Verlosser wil kom deur gebed ‘n prioriteit in jou lewe te maak, dan is Die Belangrikheid van Gebed vir jou. Ons gaan tyd deurbring in God se Woord, antwoorde kry op vrae oor hoe ons moet bid, hoe om gebed ‘n prioriteit te maak en hoe God gebed verhoor. Mag God deur hierdie studie ons oë oopmaak vir die wonder en voorreg van gebed.

More