Mosaiek Lydenstydgids: Jesus se vrae in lydingVoorbeeld
"En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie"
- Lukas 22:46 (AFR53).
Om te ontwaak en van Hom bewus te word, bring altyd ‘n ontwaking en bewuswording van myself mee. Ook andersom. Net soos ons (aan die slaap) en onbewus van Hom kan wees, kan ons onbewus wees van ons innerlike en wat binne ons aan die gang is. Onbewus dat ons na sy beeld geskape is en wat ons dink, voel en ten diepste wil hê. Dat ons kan besluit … Jesus weet wie Hy is (Johannes 13:3 AFR53) en wat in Hom aan die gang is. Hy wil iets anders hê as dit wat nou langs sy pad kom. Hy maak ‘n keuse. Nie sy wil nie, maar die wil van die Vader.
Daar is ‘n paar metafore in die Bybel wat die belangrikheid en aard van bewuswording van jouself uitdruk: Dit is soos om blind te wees en dan te kan sien. Dood te wees en dan te lewe. Om van ‘n leuen na die waarheid te beweeg. Om afgesny te wees en dan in kontak te kom.
‘n Belangrike vraag om jouself af te vra is: tot watter mate is ek bewus van my diepste self, my gedagtes, gevoelens en begeertes? Kan ek nou in woorde uitdruk wat ek regtig voel en na verlang? Gurdjieff sê die fundamentele menslike probleem is dat ons gedurig aan die slaap raak. Ons beleef almal oomblikke van insig en ontwaking, maar gly gou weer terug na ‘n onbewustelike toestand. Alle geloofsgewoontes is daarop gerig om ons te help om wakker te word en meer bewustelik te lewe. Geestelike groei is ‘n groeiende bewussyn van Hom en onsself.
Refleksie: Staan ‘n paar oomblikke af om regtig teenwoordig te wees. Haal ‘n paar keer diep asem en blaas jou asem stadig uit. Maak jou oë toe en skenk nou aandag aan jou innerlike. Wat neem jy waar? Voordat jy enigiets beoordeel, kan jy dit noem? ‘n Gedagte, ‘n gevoel, ‘n herinnering, verbeelding, bekommernis … Neem dit net waar terwyl jy alle ander dinge laat vaar. Praat dan met Hom daaroor.
Gebed: Ek vra om genade vir ‘n diep bewussyn van sy teenwoordigheid in my lewe.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wat beteken ‘n lydingservaring vir jou? Hoe sou jy dit in ‘n paar woorde beskryf? Vir Jesus was dit ‘n reis van lyding en sterfte op pad na opstanding. Vir ons as gelowiges is lyding ‘n reis om Hom te ken en die krag van sy opstanding te ondervind deur te deel in sy lyding, en só aan Hom gelyk te word in sy dood. Tydens hierdie reis deur Lydenstyd, bring ons 40 dae deur met die vrae wat Jesus in die laaste dae van sy lewe gevra het.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com